Dis weer tyd vir die Weskus- kuierkonsert met ’n propvol program vir jonk en oud by die Laaiplek-hotel in Velddrif.
Met vermaak en verskeie aktiwiteite kan gaste weer eens ’n heerlike feesatmosfeer verwag.
Steyn Fourie, ’n mede-organiseerder, sê een van die vele aktiwiteite uniek aan vanjaar se kuierkonsert is die lekker langtafel-ete.
Fourie vertel die konsep daaragter was die geesteskind van wyle Markus Bester (35), beter bekend as Makkie, wie se lewe vroeër dié maand in ’n motorongeluk kortgeknip is (“Skok ná Makkie sterf”, Weslander, 21 Maart 2024). “Dit is iets wat hy graag wou gedoen het en ons help maar net om dit ’n realiteit te maak. Ons doen dit ter ere van hom en met liefde.”
Die lekker langtafel-ete is ’n geleentheid vir gaste om lekker samesyn te geniet en mekaar beter te leer ken aan tafel met ’n heerlike bord kos. Gaste kan uitsien na paella, afval, snoek, mossels en calamari – alles in hotel-styl voorgesit.
Net 100 kaartjies is beskikbaar teen R120 per persoon (per sessie).
Wat verlede jaar se fees ook uniek gemaak het, was die aanbieding van die sleepwa-agteruitry-kompetisie, ’n heel eerste in Suid Afrika.
“Dit was ’n reusesukses en baie mense het ingeskryf. Ons moes dit hierdie jaar ’n uur langer maak.” Wenners van die kompetisie loop weg met groot pryse. Die mans- en vroue- wenner wen elk R3 500 en die tweedeplek-wenners sal elk R1 500 ontvang, geborg deur Super Auto Marine in Vredenburg.
Om in te skryf vir die sleepwa-agteruitry-kompetisie, kontak Super Auto Marine by 022 713 1662 of stuur e-pos na superautomarine@gmail.com.. Kaartjies vir die Kuierkonsert kos R175 vir volwassenes, R70 vir hoërskoolleerders, R50 vir laerskoolleerders en R120 vir pensioentrekkers tussen 65 en 79 jaar.
Die goues in jare (80 en ouer) sowel as voorskoolse kinders geniet gratis toegang. Kaartjies is te koop by Laaiplek SPAR of aanlyn by www.weskustickets.co.za. Hou Weslander weekliks dop vir meer inligting oor die verskillende aktiwiteite en vermaak wat op feesgangers wag.
Skakel 071 501 7460 met enige Kuierkonsert-navrae.
Kompetisie-tyd
Weslander sal vir die volgende paar weke, in die aanloop tot die feestelike geselligheid, weekliks een gesinspakket aan ’n gelukkige leser weggee, met komplimente van die Weskus-kuierkonsert.
Hoe kan jy wen?
Kyk uit vir Vissie, die amptelike Weskus-kuierkonsert-logo, soos op die advertensie hieronder, wat elders in die koerant versteek is.
Koop die koerant, vind Vissie en WhatsApp vir ons jou naam, van en ’n foto van die bladsy waarop Vissie wegkruip, na 076 012 5048.
Een wenner sal weekliks gekies en telefonies gekontak word. Die laaste kans om te wen is in die uitgawe van Donderdag 4 April.





