’n Langtafel-ete, agteruitry-sleepwa-kompetisie, eet-kompetisie, stoei, bulritte, tonne kindervermaak en topkunstenaars is van die hoogtepunte waarna besoekers aan vanjaar se Weskus-kuierkonsert kan uitsien.
Die feestelikheid, wat sy oorsprong in 2022 gehad het, vind vanjaar op Saterdag 6 April by die Laaiplek-hotel plaas, met baie veranderings wat aan die feesterrein aangebring is om ’n bobaas-feesatmosfeer te verseker.
Dit is voorwaar ’n dag uitgesit vir die familie en iets unieks aan die Weskus, meen Steyn Fourie, mede-feesorganiseerder saam met sy vrou, Lurina.
Die tweede kuierkonsert het verlede jaar met groot joligheid op die oewer van die Bergrivier plaasgevind en Steyn sê hulle mik nog hoër met hierdie jaar se kuierkonsert om selfs ’n beter ervaring vir feesgangers te bring.
“Ons gaan voluit,” sê hy.
“Dit is ’n alles-in-een- gesellige kuierkonsert met vermaak vir oud en jonk en bied baie meer waarde as dit waarvoor jy sal betaal,” verseker Steyn.
Boonop is die feesterrein gerat om feesgangers teen die ergste hitte te beskerm, met 70% van die terrein wat onder ’n skadunet beskut sal wees.
Kaartjies kos R175 vir volwassenes, R70 vir hoërskoolleerders, R50 vir laerskoolleerders, en R120 vir pensioenarisse tussen 65 en 79 jaar.
Die goues in jare (80 en ouer) sowel as voorskoolse kinders geniet gratis toegang.
Kaartjies is te koop by Laaiplek SPAR of aanlyn by www.weskustickets.co.za
Hou Weslander weekliks dop vir meer inligting oor die verskillende aktiwiteite en vermaak wat op feesgangers sal wag.
. Skakel 071 501 7460 met enige kuierkonsert-navrae.
. Kompetisie-tyd
Weslander sal vir die volgende paar weke, in die aanloop tot die feestelike geselligheid, weekliks een gesinspakket aan ’n gelukkige leser van Weslander weggee, met komplimente van die Weskus-kuierkonsert.Hoe kan jy wen?
Kyk van vandag af (7 Maart) uit vir Vissie, die amptelike Weskus-kuierkonsert-logo soos op die advertensie hieronder, wat elders in die koerant versteek is.
Koop die koerant, vind Vissieen WhatsApp vir ons jou naam, van en ’n foto van die bladsy waarop Vissie wegkruip na 076 012 5048.
Een wenner sal weekliks gekies en telefonies gekontak word. Die laaste kans om te wen is in die uitgawe van Donderdag 4 April.





