Vredenburg/Saldanha-krieketklub, die houer van die Darling Johannes Braaff-kriekettrofee, het Sondag 3 April op die Darling-krieketveld sy titel suksesvol verdedig.
Die eindstryd tussen die Krewe en Piketberg het egter gelykop geëindig en die kampioen moes deur ’n superboulbeurtbeslis word. Die twee het vir die eindstryd gekwalifiseer nadat hulle met die gasheer en Atlantis se Baggy Blues afgereken het.
Die verdedigende kampioen het uit die staanspoor onder Piketberg se boulers ingeklim en die wilgerlat lustig geswaai.
Ernwil Afrika (Piketberg), 16-jarige vonds van die Darling Johannes Braaff T20-toernooi, het die Krewe in die laaste boulbeurt tot slegs 11 lopies beperk en ’n paaltjie laat kantel wat die verdedigende kampioen tot 135/6 in sy toegelate 20 boulbeurte beperk het.
Die span van Piketberg het hul beurt goed begin en met die telling op 52/2 was die span stewig op pad na ’n geskiedkundige oorwinning oor die Krewe. Piketberg, wat 12 lopies moes aanteken van 6 balle, het albei spanne se honger vir ’n oorwinning getoets en met 2 lopies van die eerste twee balle het dit die druk op Piketberg se kolwers geplaas.
Die verdedigende kampioen het sy een hand op die trofee gesit met ’n paaltjie van die derde bal en met 10 lopies van die laaste drie balle kon net ’n wonderwerk ’n oorwinning vir Piketberg verseker. Piketberg het egter gou die druk na Vredenburg/Saldanha se veldwerkers verskuif met twee agtereenvolgende viere. ’n Wen was skielik binne Piketberg se bereik met slegs twee lopies vir ’n wen van die laaste bal of een lopie om sake gelykop te maak. Piketberg het egter onder die druk gevou. Hy kon slegs ’n enkellopie kry om die tellings gelykop te maak. Volgens die toernooireëls, as die spanne gelykop eindig, moet hulle dit in ’n superboulbeurt uitspook.
Piketberg kon egter net 4 lopies aanteken, wat aan die Krewe die taak gelaat het om 5 lopies vir ’n oorwinning te kry. Thomas James het vir die wenlopies van die vyfde bal gesorg en so verseker die Krewe bly steeds die houer van die Darling Johannes Braaff-trofee bly.
Atlantis Baggy Blues het Darling geklop en verseker hy eindig derde.
Horatio Cornellisen is as die beste kolwer, Devon Smith, beste bouler (albei van V/S), Gerrit Carolus van Darling is as die beste paaltjiewagter aangewys en Ernwil Afrika as die speler van die toernooi.





