Nathan Engelbrecht, die openingskolwer van die Krewe, speel verdedigend teen United van Green Point in die twee spanne se vroeë vriendskaplike wedstryd in Vredenburg. Engelbrecht het Saterdag (8 Oktober) sy staal getoon met ’n onoorwonne 28 lopies teen Wellington.Foto: Murphy Roberts


Die Vredenburg/Saldanha-krieketklub het sy seisoen Saterdag in die Boland-eendagkrieket- Premierliga op ’n wennoot afgeskop.

Die Krewe het Wellington in dié se agterplaas met 9 paaltjies geklop. Wellington, wat eerste gekolf het, is egter vir ’n skamele 90 lopies uitgeknikker.

Imraan Manack van die Krewe het ’n goeie, veelsydige rol gespeel en het eers die tuisspan met die bal getreiter (3/16) en daarna sy boulers met ’n onoorwonne 39 lopies gestraf. Manack en Nathan Engelbrecht, met sy onoorwonne 28 lopies, het die Krewe van ’n oorwinning verseker. Manack se 39 lopies was van slegs 35 balle en het twee sesse en drie viere ingesluit, wat die wenlopies was.

Die Krewe se boulaanval het reeds met die eerste bal die tuisspan onder druk geplaas en het die tuisspan ná slegs 22.1 boulbeurte almal terug in die kleedkamer gehad. Die Krewe se beste boulers was Devon Smith (3/14), Imraan Manack (3/16) en Thandani Majebe (2/30).

Met die span se boulers wat hul deel gedoen het, het die kolwers ook nie teleurgestel nie en die wenteiken is ná slegs 16.5 boulbeurte behaal. Die Krewe se aanvangskolwers het met ’n goeie openingsvennootskap reeds die grondslag vir die oorwinning gelê.

Vredenburg/Saldanha, wat verlede seisoen vyfde op die punteleer geëindig het, sal dié seisoen wil verbeter en reis Saterdag na Stellenbosch waar hy die Victoriane pak. Die span speel Sondag sy eerste tuiswedstryd teen Van der Stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article