Vredenburg Saldanha Krewe het die tweede en derde ronde van die Superliga-uitspeelrondes van Boland-krieket op ’n hoë noot begin deur eers met Young Peoples- (31 Januarie) en toe met Paarl-krieketklub (2 Februarie) op Bolandpark af te reken. Ongelukkig het hulle in hul derde wedstryd teen Maties vasgeval.

In hul eerste kragmeting het hulle Peoples tot 132/6 in hul toegelate 20 beurte met akkurate boulwerk deur Akhona Mnyaka, Thandani Mayebe en Eathan Cunningham beperk.

Aviva Majima (44 lopies) en Eathan Cunningham (52* n.u.n.) het goed met die kolf presteer en die teiken van 133 lopies vir die verlies van vyf paaltjies is in die 14de boulbeurt verbygesteek.

In hul tweede wedstryd teen die Gemeenskapsbekerkampioen, Paarl, het Nathan Engelbrecht, Giovanni Gulley, Michael Copeland en Aviva Majima goeie tellings behaal en die Krewe gehelp om 129/6 aan te teken. Paarl KK is egter vir 94 lopies in 19 boulbeurte uitgeboul en het in die proses ’n bonuspunt verdien.

Sondag het die Krewe teen die Superliga-kampioen, die Maties, te staan gekom en ’n goeie beurt van 138/3 behaal. Die Krewe het die Matie- kolwers uit die staanspoor onder druk geplaas en twee vinnige paaltjies op 23/2 laat kantel.

Hoewel die Krewe hul derde wedstryd goed teen die Maties begin het deur twee vinnige paaltjies vir 23 lopies te neem, kon hulle egter nie die druk volhou nie.

Gysbert Wege en Pieter Malan se twee vinnige 50-talle het die wedstryd buite bereik van die Krewe geneem en die Krewe se teling ná 17.2 boulbeurte verbygesteek om met agt paaltjies te wen.

Ná drie wedstryde beklee die Krewe die tweede posisie en met nog vyf uitstaande wedstryde teen Worcester (2), Young Peoples (1), Maties (1) en Paarl (1) moet die Krewe nog minstens drie van hierdie wedstryde met ’n bonuspunt wen om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article