Vredenburg/Saldanha is vanjaar die Wes-Kaapse T20-verteenwoordiger in Krieket Suid-Afrika se Gemeenskapsbekerreeks wat eersdaags in Gauteng begin.
Dié Boland-kampioen het die afgelope Saterdag die SWD-kampioen Pacalsdorp United in dié se agterplaas met 20 lopies in hul uitspeelwedstryd geklop.
Die Krewe het eerste gekolf en ’n skaflike teiken van 176 in hul toegelate 20 boulbeurte behaal, met Nathan Engelbrecht (22), Imran Manack (34), Quintin Kannemeyer (35) en Aviwe Mjijima (35) wat goeie bydraes met die kolf gemaak het. Die tuisspan is daarna met die eerste bal van die laaste boulbeurt uitgehaal vir 146, met Manack wat weer eens sy veelsydigheid getoon het. Manack (2/33) is goed bygestaan deur Johnrico Vorster (2/27) en Neil Lochner (3/32).
Die kompetisie word van 8 tot 10 Desember in Johannesburg beslis met die wenner wat met R20 000 wegstap. Die gewilde kompetisie is terug op die krieketkalender nadat dit nie die vorige seisoen plaasgevind het nie.
Westelike Provinsie Krieket het aangekondig dat sy verteenwoordiger, Bellville-krieketklub, nie die streek gaan verteenwoordig nie omdat hulle nie aan die transformasievereistes voldoen nie. Volgens WP Krieket moet ’n klub twee gekleurde spelers, waarvan een swart is, vir minstens drie wedstryde in die beginspan hê.





