Die Krewe-krieketspan van Vredenburg/Saldanha het Saterdag 15 Februarie na Wellington gereis om die tuisspan in ’n Boland Premier 50- ligawedstryd in sy agterplaas te pak.

Die kaptein, Thomas Kannemeyer, het egter die loot verloor en is deur Wellington gevra om eerste te boul. Kannemeyer se boodskap aan sy boulers was om ’n goeie lyn en lengte te handhaaf en paaltjies te neem.

Neil Lochner en Devon Smith het op Kannemeyer se versoek gereageer en Wellington uit die staanspoor onder druk geplaas en onderskeidelik drie en twee paaltjies vir 90 lopies laat kantel.

Lochner was ook verantwoordelik vir die uithardloop van Junaid Cassiem vir 20 lopies van 19 balle toe dit lyk of hy die tempo wil verhoog.

Sestig lopies later het Lochner en Smith Wellington vir 150 lopies uitgeboul met goeie ondersteuning van Kannemeyer, Tandani Majebe, Riaan Smit en Leightom Goeida.

Nathan Engelbrecht en Rueben Klaase het die Krewe se beurt geopen, maar Klaase (2) is deur Kieran Dreyden van Shaun Wolmarans se bal uitgevang en Cecil Jooste (11) is deur Gerswin Fredricks van Monilico Williams se aflewering gepootjie.

Engelbrecht het egter die Krewe se beurt geanker, maar is op 63 deur Roche du Plooy been-voor-paaltjie (BVP) betrap met die Krewe se telling op 74/3.

Met die vertrek van Lochner (7) en Kannemeyer (26) op 107/5 het die lopies opgedroog toe albei deur Du Plooy BVP betrap is en die Krewe laat wankel het.

Horatio Cornelissen (2) en Riaan Smit (0) is deur Tiaan Cloete BVP betrap en dinge het nie goed gelyk vir die Krewe nie.

Devon Smit (19 nie uit nie) en Leighton Goeida (8 nie uit nie) het egter die wa deur die drif getrek en die Krewe tot ’n oorwinning van drie paaltjies gevoer.

Met nog vier wedstryde oor beklee die Krewe die derde plek, met Maties in die tweede plek (29 punte) en Van der stel eerste (43 punte).

Van der stel het egter nog net een wedstryd oor.

As die Krewe al vier hul oorblywende wedstryde met bonuspunte kan wen en Maties in een wedstryd vasval, kan hy dalk nog die Premier-afdeling wen.

Daar is dus groot afwagting om te sien wie van Van der Stel, Maties of die Krewe op 2 Maart met die 2024-’25- Boland-Premierliga-kroon gaan wegstap wanneer die amptelike seisoen eindig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article