Vredenburg/Saldanha se krieketspan speel die Bolandvelde aan die brand – die Krewe is steeds onoorwonne ná ses wedstryde in die Boland-premier- eendagkrieketliga.
Die span het ook die naweek sy Community Cup T20-veldtog op ’n wennoot afgeskop toe die span Van der Stel met vyf paaltjies geklop het. Die tuisspan het eerste gekolf en kon net 122/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken. Die Krewe se boulers, onder leiding van Juanrico Vorster (3/23) en Thandani Majebe (2/10), het die tuisspan van vroeg onder druk geplaas.
Die Krewe se kolwers, met die openingskolwer Giovanini Hulley (47 nie uit nie) en Imraan Manack (28), het die teiken met selfvertroue en gemak behaal, met nog vyf paaltjies in die bank vir die span se eerste oorwinning in die korter weergawe.
Vredenburg/Saldanha het in sy vorige eendagwedstryd teen Bergrivier ook maklik geseëvier toe die span met 138 lopies baas was.. Die Krewe speel die naweek tuis teen Bergrivier en pak Stellenbosch Sondag. Hulle sal al twee dié T20-wedstryde moet wen om weer ’n plek in die eindronde te bespreek. Die span het verlede seisoen ook die eindronde gehaal. Die wedstryd teen Worcester United is egter weens reën opgeskort, wat die Krewe die mede-kampioen in die toernooi gemaak het.





