Vredenburg/Saldanha se Krewe het die afgelope naweek in die nuwe Boland Goldrush T20-reeks na die volgende ronde deurgeskuur.
Die span van die Weskus het in sy eerste wedstryd reeds gesukkel, maar aan die einde genoeg gedoen om die volgende ronde te haal.
Die Krewe se eerste wedstryd teen Wellington se wolwe het dramaties gelykop geëindig en ’n superboulbeurt moes die wenner bepaal. Die Krewe het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die tuisspan kon net 92/9 in sy toegelate 20 boulbeurte bymekaarskraap. Wat ook ’n maklike teiken vir die Wolwe moes wees, het egter in ’n naelbytstryd ontaard.
Die tuisspan se boulers het nie teleurgestel nie en die Wolwe kon ook net 92/8 aanteken, wat die wedstryd na ’n superboulbeurt geneem het, wat die tuisspan gewen het om sy veldtog rigting te gee.
Die Krewe het daarna Darling se melkboere gepak, wat eerste gekolf het. Die tuisspan se boulers het weer hul beste voet voor gesit en Darling kon slegs 90 lopies behaal voordat almal terug in die kleedkamer was. Wat na ’n maklike teiken vir die Krewe gelyk het, het die melkboere egter gewys dat enigiets in ’n krieket- wedstryd moontlik kan word.
Die melkboere het egter die Krewe almal uitgeboul vir ’n skamele 56 lopies vir ’n oorwinning van 36 lopies. Die tuisspan moes daarna die nederlaag agter die rug kry en moes sy laaste wedstryd wen om sy kanse lewendig te hou. Piketberg, wat dalk die Krewe se kanse deurmekaar kon krap, het egter die loot verloor en die tuisspan het besluit om eerste te kolf.
Die span het ’n goeie 111/5 behaal en Piketberg moes 112 behaal om die Krewe uit die toernooi te boender. Vredenburg/Saldanha se boulers het egter ander planne gehad en die span is almal uit vir 60 lopies.
Die Krewe sal op al sy silinders moet vuur as hy vanaand (Donderdag 21 Maart) die volgende ronde wil haal. Die span pak Paarl-krieketklub op Bolandpark om 18:30. Darling speel eerste om 15:00 teen Paarl-Oos.





