Die Paarl-krieketklub moes Saterdag in Vredenburg tweede viool speel toe Vredenburg/Saldanha KK sy span in die Boland-premierliga-kompetisie met 80 lopies geklop het.
Die tuisspan het verkies om eerste te kolf en 218/7 opgestapel, terwyl die besoekers met slegs 138 kon antwoord.
Die veteraan Shane Summers (60, 2×4, 4×6) was die tuisspan se uitblinker en het die Paarliete tydens sy 56 balle voor die penne gekarnuffel. Hy is goed bygestaan deur Nathan Engelbrecht (43, 2×4) en Neil Lochner (45, 3×4), terwyl Thomas Kannemeyer (21 nie uit nie) ook goed gekolf het.
Die aanvangsbouler Tylon Matthee (10-3-31-3) het die meeste skade aangerig vir Paarl, terwyl Waylain September (10-0-33-1) en Aqeeb Douman (2-0-8-1) se boulwerk ook die oog gevang het.
Paarl se topkolwers kon nie die mas opkom nie en die twee wat uitgehardloop is, het slegs hul sake bemoeilik. Dit was Waylain September (45 in 50 balle, 5×4) wat ’n kapteinsbeurt moes kom speel om sy span van vernedering te red. Akeem Minnaar (25, 3×4, 1×6) was die enigste ander kolwer wat weerstand kon bied teen Riaan Smit (10-1-33-2), Quinton Kannemeyer (5-0-13-2) en Lochner (7-0-18-1).




