Daar is seer sekerlik baie uiteenlopende gevoelens oor die beoogde kragskip wat moontlik vir 20 jaar in ons baai gaan kom lê.

Ons is almal goed “keelvol” vir beurtkrag en daarom behoort ons almal mos hierdie poging van die regering – om beurtkrag te verminder – heelhartig te ondersteun, of hoe?

Kom ons kyk na die feite op die tafel:

Hoekom ’n 20-jaar-kontrak aangaan vir ’n kort- of mediumtermyn-krisis? Gaan dit ons regering só lank neem om die energiekrisis op te los? Hopelik nie, maar dan sit ons met hierdie vaste kontrak en vaste koste vir die res van die 20 jaar. Aan die einde van die 20 jaar het ons ook niks om daarvoor te wys nie, want ons het die skepe slegs gehuur.

Die vaste koste vir die “huur” van hierdie drie skepe gaan R218 miljard oor die 20 jaar wees. Dit kom neer op ongeveer R10 miljoen per dag per kragskip nog voordat een enkele kW/h se krag opgewek of gelewer is.

Eskom wek krag teen gemiddeld R0,95 per kW/h op. Die geraamde koste van die krag vanaf die skip in Saldanhabaai gaan R1,62/kWh wees. Wie gaan vir hierdie ekstra R0,67/kW/h (70%) betaal of dit subsidieer? Wind- en sonkrag is besig om al goedkoper te word.

Die gekontrakteerde kapasiteit van die kragskip in Saldanhabaai is slegs 320 MW. Dit is verskriklik min in vergelyking met, byvoorbeeld, Koeberg se 1 940 MW en een eenheid by elke ou kragstasie wat 600 MW opwek. Elke fase beurtkrag verteenwoordig ’n tekort van 1 000 MW. Hierdie kragskip sal slegs 32% van een fase beurtkrag voorkom. Die drie skepe saam sal nie eens ’n volle fase beurtkrag kan voorkom nie.

Onthou, hierdie klein bietjie krag gaan in die netwerk in; dit gaan nie net vir ons beskikbaar wees nie. Is dit die koste en die impak op ons werd?

Die tegnologie wat hier aangewend gaan word (Wärtsilä-suierenjins) kan slegs op aardgas loop. Dit is nie die nuutste tegnologie op die mark nie. Nuwer en skoner aardgastegnologie is reeds beskikbaar, wat ook meer aanpasbaar is in terme van die soort gas wat gebruik kan word, byvoorbeeld tegnologie wat op vliegtuig-turbine-enjins gegrond is (aeroderivative technology). Dit kan ook net so vinnig geïmplementeer word as wat hul krag beskikbaar is.

Die vraag is op die openbare vergadering geopper hoekom die teenstanders van die projek hierdie as vuil energie klassifiseer. As antwoord is genoem dat dit baie skoner is as steenkoolenergie, wat waar is, maar wat nie genoem is nie, is dat dit baie vuil in vergelyking met wind- en sonkrag en selfs vuil in vergelyking met die nuutste aardgastegnologie is, soos reeds genoem.

Dan praat ons nie eens van die lawaai wat hierdie 24 suierenjins en twee stoom-turbines gaan veroorsaak nie. Ek glo eenvoudig nie die studies wat gedoen is nie. Ons gaan dit die hele tyd hoor.

Daar is genoem dat daar 145 nuwe werksgeleenthede geskep gaan word, maar eers oor ’n tydperk van drie tot vyf jaar. En 15 jaar daarna sit hulle almal weer sonder werk, wanneer die huurkontrak tot ’n einde kom. Ek stem saam met mnr. Claassen, in die Weslander van 24 November 2022, dat werksgeleenthede partykeer voorrang bo omgewingsimpak moet geniet, maar wat as dit ’n negatiewe invloed op ander werksgeleenthede het? Hoeveel werksgeleenthede gaan moontlik in die toerismebedryf verlore gaan as gevolg van die visuele-, geraas- en omgewingsimpak van hierdie skip in ons hawe?

Daar is groot gewag gemaak van die feit dat hierdie projek swart ekonomiese bemagtiging ondersteun, maar daardie aandeelhouding is in die hande van slegs ses reeds ekonomies bemagtigde individue in KZN.

Dus, geen bemagtiging in ons omgewing nie. Hulle het 49% aandeelhouding in hierdie projek en gaan R4,9 m./dag per skip (R14,7 m./dag vir al drie skepe) vir die volgende 20 jaar verdien.

Dit sluit nie die R5,1 m./dag per skip (R15,3 m./dag vir al drie skepe) in wat vir die volgende 20 jaar uit ons land gaan vloei nie. Wie gaan daarvoor betaal? Ons, die belastingbetalers en elektrisiteitsverbruikers.

Hoekom nie eerder na alternatiewe kyk, soos om hierdie R218 miljard te gebruik om ons eie, nuwe tegnologie – modulêre gaskragstasies – op land op te rig nie, eerder as in ’n reeds besige en ekologies-sensitiewe hawe en baai? Of ’n groot klomp individue bemagtig om dit te doen en baie meer werksgeleenthede skep, want dit is modulêr? Dan het ons land en meer mense minstens iets om aan die einde van die 20 jaar te wys en steeds werk te bied.

Vir my lyk hierdie kragskip-idee nie na die beste oplossing nie, maar gaan lees asseblief verder op en besluit self.


Bekommerde Inwoner,

Weskus

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article