’n Voorbeeld van Karpowership se kragskepe.Foto: Karpowership SA /Facebook


Dit blyk Karpowership SA is een stappie nader om in Saldanhabaai se waters vas te meer om elektrisiteit op te wek.

Die Turkse maatskappy het verlede week in ’n verklaring bevestig sy tweede omgewingsmagtiging, die keer vir sy Saldanhabaai-projek, is goedgekeur. Die magtiging, wat deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing uitgereik is, volg nadat Karpowership SA ook omgewingsmagtiging vir sy Richardsbaai-projek ontvang het.

Karpowership SA beoog om elektrisiteit deur middel van drie kragskepe in Saldanhabaai, Richardsbaai en Ngqura (Port Elizabeth) op te wek. Die projek is deel van die staat se onafhanklike kragprodusent-verkrygingsprogram vir risiko-versagting (Risk Mitigation Independent Power Producer Procurement Programme) wat streef om meer elektrisiteit van onafhanklike kragverskaffers te verkry en só die sukkelende kragnetwerk te help.

Fase 5- en 6-beurtkrag heers tans en geld tot verdere kennisgewing.

Eskom, die land se kragverskaffer, het Maandag in ’n verklaring verduidelik onbeplande onderbrekings en instandhoudingswerk speel alles ’n rol in kragverskaffing.

Volgens Karpowership SA sal hul beplande kragverskaffer een fase minder van beurtkrag beteken.

Die jongste omgewingsmagtiging is die tweede van die maatskappy se drie projekte wat goedgekeur is met slegs Ngqura se goedkeuring wat uitstaande is.

Die Richardsbaai-projek sal na verwagting 450 MW opwek en Saldanhabaai 320 MW.

“Hierdie is kritieke mylpale in die reis om Suid-Afrika se energiekrisis te bekamp deur die aanbied van stabiele, skoner en betroubare elektrisiteitsvoorsiening aan gemeenskappe en ondernemings wat dit so dringend nodig het,” voer die maatskappy aan.

Intussen het die Wes-Kaapse regering amptelike teenkanting teen die 20 jaar lange projek bevestig. Volgens die provinsiale regering is dié tydperk nie in die beste belang van die Wes-Kaap of die land nie. “Karpowership SA moenie die monopolie gegee word nie. Indien ons kragskepe wil insluit in ons pogings om die energiekrisis op te los, moet ons ook ander maatskappye oorweeg, en die tydperk waaroor hulle benut sal word, moet streng beperk word tot vyf jaar, onderworpe aan duidelike riglyne.

“Hierdie maatreël moet ook nie ons belegging in groenenergie misken nie,” het Premier Alan Winde op ’n sitting van die provinsiale kabinet gesê.

Volgens die kabinet is hernubare kragopwekking ’n integrale deel van die provinsie se toekomstige kragopwekking.

Karpowership SA se kragopwekking behels die omskakeling van vloeibare aardgas na elektrisiteit deur middel van hul kragskepe.

Ten spyte van voortslepende kritiek deur burgerlike organisasies en sommige Weskussers is daar wel plaaslikes wat hul steun aan die projek toegesê het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article