Johannes Thomas (links), skakelbeampte by die Gouda-windplaas, en Quinton James, waarnemende hoof van Bakerville Primêr in Gouda.


Kragonderbrekings wat nie meer ’n kopseer gaan wees nie, tesame met ’n aansienlik laer elektrisiteitsrekening, is van die voordele waarna Bakerville Primêre Skool in Gouda nou kan uitsien.

Blue Falcon (Edms.) Bpk., wat die Gouda-windplaas naby die dorp bedryf, het in samewerking met die internasionale energiegroep Acciona ’n sonkragstelsel ter waarde van R500 000 by die skool laat aanbring.

Die projek is verlede Saterdag voltooi en die waarnemende skoolhoof, Quinton James, en sy personeel is baie opgewonde hieroor.

James sê: “Eerstens is ons baie bly dat kragonderbrekings by die skool nou iets van die verlede is. Ons gaan ook nou meer as 50% minder vir elektrisiteit betaal.

“Hulle het ook veiligheidskameras op die skool se dak aangebring om inbrake by die skool hok te slaan. Die kameras is by die hoof en ondervoorsitter van die skool se beheerliggaam ingeskakel sodat ons te alle tye bewus kan wees wat by die skool aangaan.

“Die skool kry baie ondersteuning van die windplaas en hulle het ook voorheen ’n ekstra klaskamer opgerig, wat broodnodig was. Hulle help ook met die skool se voedingskema. Ons is baie dankbaar vir die windplaas vir alles wat hulle vir ons skool doen.”

Johannes Thomas, die skakelbeampte by Blue Falcon, sê die sonkragstelsel by die skool is die eerste in sy soort in die omgewing en die maatskappy beoog om dié projek na ander skole uit te brei. Saron Primêr en Roodezandt Sekondêr in Saron is twee van die skole wat die maatskappy tans in die oog het.

“Ons maatskappy is deurentyd besig met programme en projekte om gemeenskappe in dorpe in die windplaas se onmiddellike omgewing op te hef en ons fokus veral op opvoeding.

“Die windplaas verskaf elke dag ontbyt aan 4 175 skoolkinders by tien skole in die omgewing.

“Ons stel elke jaar twintig beurse beskikbaar vir studente wat in enige rigting wil studeer.”

Kennisgewings vir nuwe beurse sal in dorpe in die windplaas se omgewing aangebring word.

Aansoeke vir beurse word vandeesmaand (Junie) hanteer.. Thomas kan gekontak word by 076 140 1756 hieroor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article