Hopefield het Saterdag op sy tuisveld sy eerste ronde voltooi en dit afgesluit soos hy dit begin het.
Die span het Saterdag op sy tuisveld Vredenburg se Burg Boys 35-33 geklop.
Die besoekers wat die wedstryd van die afskop af oorheers het, het egter nie rekening met die tuisspan se veggees gehou nie. Hopefield wat vinnig 0-17 agter was, het egter koelkop gebly en ook gewys dat ’n wedstryd ná 80 minute gewen word. Die tuisspan, wat nooit in die wedstryd die voortou kon neem nie, het egter toe dit die nodigste was, die wa deur die drif getrek en kort voor die einde vir die eerste keer hul neus voorgekry en sodoende die besoekers met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Die treurseisoen van Vredenburg se Burg Boys duur tans voort en die span wat die wedstryd heeltemal oorheers het, sal seker steeds wonder wat het verkeerd gegaan in hul laaste eersteronde-wedstryd. Die besoekers, wat reeds in die eerste vyf minute op die telbord was met ’n onverdoelde drie, en ook reeds ’n bonuspunt in die eerste helfte behaal het, het egter by tye die kluts heeltemal kwytgeraak terwyl die tuisspan geduldig op hul kanse gewag het.
Hopefield het ook seker gemaak dat hulle binne trefafstand van die besoekers bly en het hard geslaan toe dit die nodigste was.
Hopefield onthaal moontlik Saterdag St. Helenabaai in hul eerste wedstryd van die Grootuitdaagbeker-kompetisie se tweederonde-wedstryd. Die span uit die Agterbaai het nog twee wedstryde van sy eersteronde-verpligtinge en dit is nog onduidelik of die span wel teen Hopefield gaan speel weens ’n dissiplinêre ondersoek.
Die verdedigende kampioen Saldanha reis na Mamre en sal wil voortbou op sy eersteronde-vertoning. Mamre, wat self sy oog op die uitspeel-rondes het, sal egter kwaai teenstand bied en met ’n oorwinning kan die groen truie die punteleer drasties verander.
Paternoster, wat tans die tweede plek op die punteleer beklee, sal egter ’n blaaskans neem. Velddrif en Young Hearts sal sake vir die vierde plek uitspook. Vredenburg behoort sy seisoen weer momentum te gee as die Burg Boys Koringberg besoek.
Volledige program is: Mamre t. Saldanha, Hopefield t. St Helena, Koringberg t. Vredenburg, Langebaan t. Piketberg en Velddrif t. Young Hearts, terwyl Paternoster ’n loslootjie geniet.





