Ronaldo Brown bars deur die verdediging van Flying Eagles.

Terrance Ackers

Die Saldanha Tigers het die afgelope Saterdag 3 Mei in die Streekuitdaag- ligakompetisie van die Boland-rugby- unie op Diazpark die Flying Eagles RVK van Malmesbury 75-10 met die kous oor die kop huis toe gestuur toe hulle 11 drieë teenoor die besoekers se een aangeteken het. Die rustydtelling was 28-3 in die guns van die tuisspan.

Die wedstryd het begin met spelers wat mekaar eers “deurgekyk” het.

Die Saldanha Tigers het die oorhand in die skrums gehad en die besoekers het in hierdie afdeling swaar geleef. Die vleuel Charlton “Poenatie” Samuels van die tuis- span het sy span se rekening in die 12de minuut geopen deur agter die doellyn te gaan kuier. Die losskakel, Daven Losper, het met die doelskop geslaag (telling 7-0).

Die Tiere het hul ritme begin kry en stelselmatig die oorhand in alle afdelings gekry deur lynstane te oorheers en solidie skrums los te druk. Wat die losgemale betref, het die kaptein, Ronaldo “Sening” Brown, seker gemaak sy span kraai

koning. Die Tiere het binne trefafstand gefouteer en die besoekers se losskakel, Willie Balie, het sy span se eerste punte op die telbord geplaas (telling 7-3).

In die 19de minuut het die agtsteman, Devril “The Beast” Julies, sy span se tweede drie geduk. Losper was weer in die kol met die vervyfskop (telling 14-3).

Hierna het die tuisspan die bal lustig rondgegooi en die besoekers moes hul keer ken. Hulle kon nie al die gate toestop nie en in die 25ste minuut is die heelagter Milani “Mapimpi” Zilani oor die doellyn en Losper was weer eens suksesvol om die telling op 21-3 te staan gebring.

bonuspunt in eerste helfte

Die tuisspan wou met alle mag die

bonuspuntdrie in die eerste helfte hê en het alles probeer. Die bal het heelwat lug gekry en die spelers het baljaar. Baie foute is gemaak en sodoende is talle punte weggegooi. Die aantal foute in die eerste helfte was gewis ‘n bron van kommer vir die afrigters. In die 40ste minuut het Samuels sy tweede vyfpunter aangeteken en seker gemaak dat die tuisspan wel sy bonuspunt kry. Losper was weer eens in die kol en het ook die rustydtelling op 28-3 te staan gebring.

Die tweede helfte is begin met die tuisspan wat met meer erns gespeel het. Die slot Rivaldo “Bakkies” Barends was ‘n bron van krag in die lynstane en van hierdie faset het die tuisspan met hartelus begin hardloop. In die tweede minuut het die kaptein en flank Ronnie “Sening”

Brown, wat ‘n barshou gespeel het, deurgesuiker vir sy drie. Losper het weer eens raakgekorrel (telling 35-3). Die telbord het hierna lustig saamgesels en die tuisspan het met goeie samespel tussen voor- en agterspelers hiervoor gesorg. In die sewende minuut het die flank Ju-wayne Prins nie op om laat wag nie en is met twee verdedi-

gers op sy rug oor die doellyn. Losper was weer sekuur en (telling 42-3). Die besoekers moes maar tevrede wees om gereeld agter hul eie doellyn te staan. Met hul skrums, lynstane en losgemale onder druk was dit moeilik om die tuisspan van die doellyn af weg te hou.

losper se oog net een keer nie in die kol

Die voorspelers het met die bal in die hand baljaar en Julies het sy tweede drie in die 11de minuut gedruk. Losper het weer oorgeskop en (telling 56-3).

Jaydee Coetzee, die afrigter, het toe besluit om sy reserwes op te bring, want die koeël was deur die kerk. Agterlangs het die reserwesenter Tiaan “Jam” van Wyk die verwoesting voortgesit en sy teenstaanders moes hul keer ken. Van Wyk is in die 14de minuut met ‘n vyfpunter beloon, wat weer deur Losper verdoel is, en dit het die 50-tal op die telbord geplaas (telling 56-3).

Die besoekers het geen antwoord vir die tuisspan se aanvallende spel gehad nie. In die 22ste minuut is Van Wyk met sy tweede drie beloon nadat hy deur vier verdedigers gehardloop en twee van hulle onderstebo gehardloop het. Losper kon nie dié een verdoel nie (telling 61-3).

Voorspelers van die tuisspan het genoeg balle aan die agterlyn besorg. Die reserwe- skrumskakel, Juan “Seep” Blaauw, het die verdedigers oorhoops gehad en deurgenael vir sy drie onder die pale. Losper was weer in die kol en die telling was 68-3.

Die besoekers wou seker maak hulle bly nie op die punte staan nie en in die 28ste minuut is hul reserwestut, Keano Warnick, oor die doellyn vir sy span se eerste drie. Balie (die losskakel) was suksesvol met die doelskop (telling 68-10).

Steeds was dit egter nog nie die einde nie en in die 37ste minuut is die reserwe-agtsteman, André “Yster” August, oor vir sy span se elfde drie. Met groot aansporing van die skare het die slot, Rivaldo Barends,

die bal geneem en pale toe gekorrel. Hy was suksesvol met die doelskop en die eindtelling was 75-10.

• Die Saldanha Tigers se B span het Flying Eagles B met 28-0 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article