In vorige artikels het ek die groeiende kostelas wat munisipaliteite dra, ondersoek, gefokus op die vyf munisipaliteite in die Weskusdistrik.
Die breër belastinglas wat burgers in die gesig staar, is ook ondersoek en ek het aangevoer dat ons in werklikheid almal staatswerkers is – wat bydra deur belasting, heffings, tariewe en fooie lank voordat ‘n sent aan onsself bestee is. Huishoudings voel die druk van stygende regeringsgedrewe koste, veral op munisipale vlak.
‘n Minder sigbare, maar toenemend belangrike, drywer van inflasie is geadministreerde pryse. Dit verwys na goedere en dienste waarvan markkragte nie hoofsaaklik die pryse bepaal nie, maar die regering, reguleerders of staatsbeheerde entiteite.
Dit sluit elektrisiteitstariewe, munisipale tariewe en diensfooie, water- en sanitasiefooie, vullisverwydering, brandstofheffings, openbare vervoertariewe en verskeie lisensie- en administratiewe fooie in. Hoewel hierdie deel is van die Verbruikersprysindeks (VPI), verskil dit van kos, klere of huishoudelike produkte.
Data van Statistiek Suid-Afrika tot Januarie 2008 toon ‘n volgehoue verskil tussen geadministreerde pryse en ander inflasiemaatstawwe. Gemiddeld staan die geadministreerde prysindeks op 204,6 teenoor 168,5 vir hooflyninflasie en 162,5 vir inflasie uitgesluit geadministreerde pryse. Hierdie gaping dui daarop dat regeringsbeheerde pryse aansienlik vinniger gestyg het as pryse wat deur markkragte bepaal word.
Huishoudings het dus sterker prysdruk vir elektrisiteit, munisipale dienste, brandstofheffings en ander geadministreerde dienste as van private goedere en dienste ervaar. Die uitwerking op lae en middelinkomstehuishoudings is erg. Geadministreerde pryse styg oor die tydperk met 235,9 indekspunte, hooflyninflasie met 147,3 punte en inflasie met 133,4 punte. Geadministreerde pryse verdriedubbel dus.
Veelseggend is die opgehoopte afwykings: Geadministreerde pryse styg met 233,7 punte, wat die stygings in ander inflasiemaatstawwe ver oortref, en verteenwoordig die verborge koste van regeringsbesluite wat in daaglikse uitgawes ingebed is – kostes wat stil, dog meedoënloos ophoop. ‘n Eenvoudige voorbeeld is die gemiddelde vlak van geadministreerde pryse, wat sedert 2008 ongeveer 25-30% hoër as nie-geadministreerde pryse is.
Dus, as geadministreerde pryse breedweg markgebaseerde pryse gevolg het, sou hooflyninflasie waarskynlik oor ‘n tydperk ongeveer ‘n halwe persentasiepunt laer per jaar gewees het. Die opgehoopte effek oor tyd is aansienlik.
Dit het ‘n regstreekse uitwerking vir monetêre beleid. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank werk binne ‘n inflasieteikenraamwerk om hooflyninflasie binne ‘n 3-6%-band te hou. Volgehoue verhoogde inflasie – selfs wanneer dit deur geadministreerde pryse gedryf word – vereis hoër rentekoerse vir langer om inflasieverwagtinge te anker en beleidsgeloofwaardigheid te handhaaf. Geadministreerde pryse is kern-insetkoste reg deur die ekonomie. Wanneer elektrisiteitstariewe, brandstofheffings en munisipale koste skerp styg, spoel hierdie stygings deur voorsieningskettings, wat opwaartse druk op pryse plaas. Dit help verklaar hoe inflasie hardnekkig hoog bly, selfs wanneer die vraag swak en ekonomiese groei gedemp is.
In hierdie sin tree hoë geadministreerde pryse op as ‘n stille belasting op produk- sie en verbruik en is dit ondeursigtig, gefragmenteerd en selde gedebatteer.
Tog is hul ekonomiese impak baie werklik – dit erodeer koopkrag, verhoog sakekoste en verskans inflasie.
• Berig deur Clive Coetzee, ‘n senior lektor by die fakulteit van militêre wetenskap by die Universiteit Stellenbosch.




