Heinrich Koopman is die nuwe voorsitter van die Saldanha Tigers-rugbyklub.


As die jongste voorsitter in die geskiedenis van die Saldanha Tigers-rugbyklub het Heinrich Koopmann (38) groot planne.

Koopman se liefde vir rugby het op ’n jong ouderdom begin. Die vlam vir rugby het meer gegloei toe hy as jong man sy Saterdae langs die veld deurgebring het en na wedstryde van die Saldanha Tigers gekyk het. Op die ouderdom van 16 het hy spelers soos Volbe Vraagom, Shawn Pietersen en Tim Engelbrecht en hul kuns vir rugby aanskou.

“Dis hoe ek van 2002 tot 2011 my rugbyloopbaan by die Saldanha Tigers voortgesit het. Ek het aan myself ’n belofte gemaak dat ek eendag weer wil terugploeg in die Diazville-gemeenskap, met die oog om eendag terug te gaan met ’n ander benadering om die Saldanha Tigers na groter hoogtes te neem,” vertel Koopman.

Hierdie het ’n werklikheid geword en Koopman is in April vanjaar as die klub se nuwe voorsitter aangestel nadat die vorige voorsitter bedank het.

“Ek is aan die begin van die jaar op ons jaar- vergadering as ondervoorsitter verkies. Ek moet eerlik wees – my oog was op die voorsitterspos en het my só verkiesbaar gestel, en dit was my ingesteldheid, maar ek moes ongelukkig tevrede wees met die ondervoorsitter-pos. Ek het die rol aanvaar en my berus dat alles die wil van God is.”

Koopman se visie vir Saldanha Tigers is om eerste na die welstand van die jeug en spelers om te sien en om Jesus deel te maak van hul fondasie. Met hul slagspreuk “Ons eer God in alles wat ons doen” is gebed en geloof hul missie.

“Ons wil ’n kultuur skep waar spelers nie net kom vir rugby nie, maar dit ook as ’n toevlugsoord ervaar, waar hulle vryheid en harmonie kan beleef.

“Ons wil graag ook hierdie jaar in die topvier eindig en dalk ook in uitspeelrondes meeding.

“Ons speel in die Boland-streek-uitdaag-afdeling en is een liga weg van die Boland-Weskus-Grootuitdaagbeker-kompetisie.

“Ons wil graag in 2026 of dalk al in 2025 teen klubs soos die Vredenburg- en Saldanhabaai-rugbyklub meeding. Dit gaan die eerste keer in die geskiedenis van Saldanhabaai wees dat twee klubs in een liga meeding.”

Daar is tans twee spanne wat in die Swart Weskus-streek-uitdaagkompetisie speel wat vervoerkostes na meer as R8 000 neem.

“Ons is so dankbaar vir AFRIWU wat op twee geleenthede ons vervoerkoste 100% gedek het. Ons vra indien enige ander borge wil help, is hulle meer as welkom om ons te kontak. “Ons het 70% van ons spelers van 18-25, en soos ons weet, is ons werkloosheidsyfer die hoogste. Ons as die bestuur doen alles in ons vermoë om spelers se welstand te bevorder. “Ons sal enige soort skenking aanvaar.” Om donasie te maak kontak Koopman by 076 040 6203.

Met sy goeie gesindheid en visie glo Koopman die Saldanha Tigers gaan net van krag tot krag groei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article