“Konstruksie is nie net nog ’n loopbaan vir my nie, dit is my passie,” vertel Jolene Visser, nuwe mede-eienaar van Jesmarann Construction in Langebaan.
Visser het in 2015 haar loopbaan by Jesmarann Construction as administrasieklerk begin, maar het sedertdien die leer geklim.
Sy het op Dinsdag 1 Februarie die leisels oorgeneem as mede-eienaar saam met haar vennoot Johan Louw.
In haar pos as administrasieklerk het Visser mettertyd stelselmatig direk met die kliënte begin skakel en werk. “Tussendeur het ek ook die bemarking van die besigheid behartig. Die maatskappy het gegroei en in die proses het my verantwoordelikhede ook vinnig meer geword,” vertel sy.
Mettertyd het sy direk begin skakel met argitekte, finansiële aspekte van projekte, beplanning van konstruksie- roosters in samewerking met die voorman en die materiaalbestelling en die kontrolering van projek-begroting, behartig.
“Met ’n groter span in die besigheid is ek aangestel as kantoorbestuurder. Met al die nuwe trappies op die konstruksieleer het ek elke dag iets nuuts geleer.”
Dit is juis dié ervaring, die leerproses en groei wat Visser gereed gemaak en bekwaam het vir haar nuwe rol.
Die konstruksiebedryf word meesal beskou as ’n mansgedrewe beroep. Visser sê sy verstaan hierdie persepsie juis omdat konstruksie as fisieke arbeid beskou word.
“Ek dink tog elke vrou daar buite kan die bedryf net so goed (miskien beter) bestuur. In konstruksie is kommunikasie, beplanning en perfeksie drie van die sleutels tot sukses, en wie beter as ’n vrou om hierdie aspekte te bestuur?”
Visser sê sy geniet elke oomblik, selfs met al die uitdagings wat na haar kant toe kom. “Om mede-eienaar te wees, was ’n groot droom vir my, min wetende dat God se plan vir my gouer sal realiseer as wat my doelwitplan was.”
Visser sê ’n vrou kan enigiets vermag solank jy in jouself glo. “Ongeag of dit ’n mansgedrewe bedryf is, jou kennis, ’n passie vir jou beroep en toewyding kan van niemand ontneem word nie.”





