’n Polisiekonstabel verbonde aan die Vredenburg-polisiekantoor is Maandag (24 Junie) omstreeks 10:30 in hegtenis geneem omdat hy na bewering geld van ’n lid van die publiek gevra het om hom te help om ’n klaringsertifikaat te verkry.
Hoewel die aanklag van korrupsie teen die 28-jarige konstabel verband hou met die bedrag van R85 het lt.-genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, ’n streng waarskuwing teen korrupsie in polisiegeledere uitgereik en die polisie se zero-toleransie-benadering daarteenoor beklemtoon.
“Korrupsie in ons geledere sal nie geduld word nie aangesien dit die oppergesag van die reg ondermyn en die vertroue tussen die SAPD en die publiek verwater,” het Patekile gesê.
Geld mag net betaal word aan die betrokke beampte by ’n polisiekantoor se finansiële kantoor, wat dan ’n kwitansie sal uitreik.
Let daarop dat finansiële kantore nie na-ure of oor naweke oop is nie.
Neem ook kennis wat die volgende prosedures by ’n polisiekantoor kos:
- . Polisieklaring (Pretoria): R180;
- . Naamklaring (plaaslik): R85;
- . Nuwe vuurwapenlisensie: R175;
- . Hernuwing van vuurwapenlisensie: R88;
- . Hernuwing van bevoegdheid: R88; en
- . Afskrifte van A4 per bladsy, ongeluk-verslag of enige ander dokument: R1,50.
Die saak teen die konstabel word deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid ondersoek.
Die polisieman was in aanhouding tot sy verskyning gister Woensdag (26 Junie) in die Vredenburg-landdroshof.
- . Kontak lt.-kol. Jonathan Amon van die teenkorrupsie-eenheid (082 301 9983) of Crime Stop (08600 10111) om enige korrupte aktiwiteite waarby polisielede betrokke is, aan te meld.




