Dit is die afgelope paar maande baie opmerklik dat gewelddadige misdaad aan die Weskus toeneem. Vredenburg en Saldanha is al vir jare bekend as die gebied se misdaad-episentrum, maar kleiner dorpe soos Velddrif, Piketberg en Darling, wat tradisioneel as rustiger en veiliger plekke teenoor Saldanha en Vredenburg beskou is, ervaar deesdae ’n skerp toename in gewelddadige misdaad (lees die berigte op bladsye 2 en 4 van hierdie week se uitgawe).

’n Bejaarde van Louwville in Vredenburg het vandeesweek by Weslander gekla hy leef in vrees nadat ’n skelm in sy huis was, sy goed deurmekaar gekrap en op sy bed uitgegooi het. Gelukkig is niks gesteel nie, maar hy is bang. Hy sê hy woon al sy lewe lank in Vredenburg en het kleintyd sonder enige sorge in die straat gespeel en in die donker skool toe gestap.

Vandag is dit onveilig vir kinders om onnodig op straat te wees. Terloops, baie van die misdadigers is kinders. Weslander het verlede week berig oor drie minderjariges van onderskeidelik 14, 16 en 17 jaar oud wat aan ’n mesmoord op ’n volwassene verbind word.

Toeka se veiliger dae is verby en ons moet ons hierby aanpas. Dit is byvoorbeeld in Steenberg’s Cove en Laingville bewys dat die teenwoordigheid van ’n buurtwag in ’n gebied tot minder misdaad lei. Ons as die publiek kan nie meer agteroor sit en sê dis uitsluitlik die polisie se werk nie. Die polisie het ’n tekort aan mannekrag en hulpbronne.

Raak betrokke by jou buurtwag en neem eienaarskap van jou buurt!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article