Die aanbreek van ’n nuwe kalenderjaar bring altyd nuwe moed, ’n geleentheid om skoon te begin, ou gewoontes af te skud, nuwe geleenthede te identifiseer en te werk na ’n “nuwe, beter jy” – ’n manier om die jaar op die regte noot af te skop.

Die meer onrealistiese voornemens hou dikwels nie veel langer as die eerste week van Januarie nie, maar dié wat met die regte ingesteldheid en nodige geduld die nuwe jaar aanpak, kan dikwels aan die einde van die jaar terugkyk op die suksesse wat deur die jaar behaal is of ten minste die vordering wat gemaak is.

Ongelukkig kry nie almal die geleentheid nie en is die nuwe jaar op plaaslike bodem reeds deur groot hartseer bevlek ná die dood van vier familielede in ’n botsing op die R27, die verdrinking van twee inwoners in die Bergrivier by Velddrif, asook talle ander wie se lewe oor die feestyd kortgeknip is. Verlies laat ’n mens egter opnuut besef hoe kosbaar die lewe en tyd met geliefdes is en herinner ’n mens dat môre nie gewaarborg is nie en dat ons elke geleentheid moet aangryp.

Ons as inwoners van Suid-Afrika het ’n besondere moeilike en uitdagende twee jaar agter die blad, maar uitdagings sal daar altyd wees.

Om ’n goeie uitkyk te hê is ’n keuse. Kom ons kies geluk. Mag vanjaar – die Chinese jaar van die haas – vir elke leser geluk inhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article