Patrick Brown is met niersiekte gediagnoseer en het die hulp van die gemeenskap nodig om mediese onkostes te dek.


Die personeel van Electro Diesel Motolek in Vredenburg is skouer aan die wiel besig om geld vir een van hul eie in te samel.

Die span het in 2020 reeds geld ingesamel om Patrick Brown met ’n gehoorapparaat te help, en hierdie jaar wend hulle pogings aan om geld vir sy niere in te samel.

’n Niersiekte is by Brown gediagnoseer en sy niere funksioneer tans met net omtrent 17% kapasiteit.

Hy het egter twee opsies om te volg – of dialise of ’n nieroorplanting.

Tans is ’n moontlike skenker vir Brown beskikbaar en die hospitaal is bereid om alle hospitaalkostes te dek, maar Brown sal ander toetse, medikasie, vervoer en ander kostes self moet dek.

Dit beloop ’n aardige bedrag en dit het Motolek se personeel genoop om weer in te spring en te help. Geld word met die verkope van burgers, soet goedjies en dies meer elke Vrydag ingesamel. ’n Backabuddy-blad is ook opgestel waar mense skenkings kan gee.

Hierdie Vrydag word jaffels by Motolek verkoop en die gemeenskap word gevra om hul ondersteuning te wys of enige finansiële skenkings by te dra.

“Ek is sowaar stomgeslaan en [het] glad nie verwag dat soveel mense tot dusver hul ondersteuning sal wys nie. Ek is ook vreeslik dankbaar vir my kollegas en hul hulp,” vertel Brown.

Die doelwit wat bereik moet word, is R100 000 en tans is nog net meer as R20 000 ingesamel.. As jy Brown wil ondersteun, kontak Motolek by 022 713 2172.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article