Ná afwesigheid van ’n maand vanweë die T-20-gemeen­skaps­bekerwedstryde, het die Boland Premierliga oor 50 boulbeurte op Saterdag 23 November ’n terugkeer gemaak.

Vredenburg/Saldanha se Krewe het na Stellenbosch gereis om die Maties op die Coetzenburg-sportterrein aan te durf.

Die muntstuk het in die guns van die Maties geval en die Krewe se kaptein, Thomas Kannemeyer, is deur die Maties gevra om sy span eerste veldwerk te laat doen.

’n Kolfblad wat ideaal vir eendagkrieket is, het die Matie-kolwers gepas en die wilgerlat is uit die staanspoor lustig geswaai.

Thandani Majebe, openingsbouler van die Krewe, het die vroeër wip wat hy en Kannemeyer uit die blad gekry het tot voordeel gebruik en gou ontslae geraak van Maties se eerste drie kolwers, vir 53 lopies.

Maties het egter vasgeskop en sy middelorde het die beurt gestabiliseer en met bestendige kolfwerk en goeie hardloopwerk tussen die paaltjies op koers gehou.

Hoewel Maties voortgegaan het om die lopies op te stapel, het Thomas Kannemeyer en Majebe die Krewe in die wedstryd gehou deur gereeld paaltjies te neem. Devon Smit en Imran Manack het met hul stadige balle die lopievloei beheer toe dit lyk of Maties die 300-kerf gaan bereik.

Met hul ondersteuning is die Maties tot 243/9 in hul toegelate 50 boulbeurte beperk.

Die Krewe se beurt is deur Giovannie Gulley en Nathan Engelbrech geopen. Gulley is met sy telling op twee van 11 balle deur Ryan Jariaj geboul, met die Krewe se telling op 10. Die Krewe kan hulself skop weens hul ongedissiplineerde kolfwerk en onnodig swak houe wat hulle paaltjies gekos het.

Met hul telling op 69/6 het die gevaarligte vir Kannemeyer en sy troepe geflikker. Goeie spel deur hom en Neil Lochner het momentum aan die beurt verleen. Toe Kannemeyer deur Thando Prusent op 29 uitgehardloop word, met die telling op 114/7, het dit nie goed gelyk vir die Krewe nie. Die stertkant-kolwers het probeer kophou, maar die Krewe is almal vir 209 uitgeboul.

“Ons kolfwerk het ons beslis in die steek gelaat en sal definitief in die komende week op die oefenveld reggestel moet word. Teen Coronations sal ons beslis ons kolfwerk moet opknap,” sê Kannemeyer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article