Hulle sê ’n braai is nie ’n braai sonder aartappelslaai en braaibroodjies nie. Dan is ’n Kersmaaltyd gewis ook nie ’n Kersmaal sonder koekstruif as nagereg nie.

En noudat aarbeie en bloubessies volop is, is hierdie somerbessie-koekstruif ’n heerlike nagereg om jou gaste op Kersdag te bederf.

Nie net is dit verfrissend en pragtig nie, maar dit kan ook voortydig gemaak word.

Bestanddele

160 g sponskoek, in dik skywe gesny

¼ koppie sjerrie, soetwyn of port

1 pakkie rooibessie-jellie (450 ml voor gestol)

250 g vars aarbeie in kwarte gesny

150 g vars bloubessies

500 ml vla

500 ml vars room

Om te versier: Bykomende aarbeie in ringetjies gesny, bloubessies en gevlokte amandels (halfkoppie van elk).

Metode

Pak die koekskywe netjies oor die bodem van ’n groot koekstruifbak van glas. Sprinkel die alkohol eweredig oor die skywe.

Plaas nou die vrugte netjies oor die koek en druk hulle dan effens af met die agterkant van ’n vurk om ’n bietjie van hul sap los te laat.

Maak die jellie volgens aanwysings op die pakkie – dit behoort 450 ml vloeibare jellie te lewer. Stort dan die afgekoelde jellie oor die vrugtekoek en bêre in die yskas totdat dit ten volle gestol het – oornag sal geskik wees.

Wanneer dit gestol het, skink die vla oor die jellie en maak dit mooi gelyk.

Klop die room styf, maar darem nie totdat dit botter is nie, en skep dit oor die vla. Rangskik die aarbeie, bessies en neute daaroor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article