Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kort nóg speurders soos konst. Aquile Philippus (25) van Saldanha, wat met haar eerste moordsaak ’n vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf vir die beskuldigde gekry het.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê Philippus se deeglike werk en volledige saakdossier het die stewige vonnis vir Charlton Pickardt (29) se moordenaar verseker.
Jurgen Thys (28) het Pickardt op 18 Junie 2022 om 20:30 met ’n skerp voorwerp in die rug gesteek. Philippus, wat op daardie tydstip maar vier jaar in die polisie was, moes die saak ondersoek. Wat die saak vir haar bemoeilik het, was die feit dat sy beide die beskuldigde en die oorledene goed geken het, omdat sy in Saldanha grootgeword het.
Pickardt het in die Vredenburg- provinsiale hospitaal aan sy wonde beswyk.
Thys, wat homself later by die Saldanha-polisie kom oorgee het, is in hegtenis geneem en het op 20 Junie 2022 sy eerste verskyning in die Vredenburg-landdroshof gemaak. Hy het skuld ontken.
Op 5 Julie vanjaar, ná net meer as ’n jaar en ’n maand, volgens Helfrich ’n kort tyd vir sulke sake, is Thys vyftien jaar tronkstraf opgelê, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Philippus was baie verbaas oor die vonnis. “Ek het dit regtig nie verwag nie.” Sy was egter ook baie tevrede, want daar het ’n groot gewig op haar skouers gerus om geregtigheid vir die oorledene en sy ouers te laat geskied.
“Dit was my eerste moordsaak. Om vir die ouers sulke resultate te kon gee, was vir my goed, want ek het my beste gegee.” Sy vertel Pickardt se ma het haar dank uitgespreek ná die vonnisoplegging.
Philippus het as 20-jarige by die polisie aangesluit en het haar basiese opleiding by die polisiekollege in Philippi ondergaan.
Haar eerste pos was as konstabel by die sigbarepolisiëringstak op Saldanha (Vispol), waarna sy gekies is om by die speurtak aan te sluit.
“Ek geniet die werk, maar daar is baie struikelblokke.”
Sy vertel dat sy aan die diep kant ingegooi is en maar so in die loop moes leer hoe om saakdossiere en borgtogaansoeke te hanteer. Sy moes ook leer, en is steeds besig om te leer hoe om die hof en hofverrigtinge te navigeer.
“As ’n baie jong konstabel wat nog net vier jaar in die polisiediens was en ’n groentjie by die Saldanha-speurtak, en met nog geen ondersoekervaring nie, het konstabel Philippus se toewyding aan haar eerste moorddossier bewys dat Thys skuldig is aan die moord,” het Helfrich gesê.
Haar pligsgetrouheid maak dat Philippus, wat die trotse ma is van die jaar en sewe maande oue Lumae, nie soveel tyd saam met haar gesin deurbring as wat sy graag sou wou nie.
Sy waardeer dus die ondersteuning van haar kêrel, McNeil Reid (25), geweldig baie.
“Konstabel Philippus se toewyding en harde werk om te verseker dat ’n oortreder voor die gereg gebring word, getuig van haar integriteit en lojaliteit teenoor die polisie. Sy is ’n groot aanwins vir die Saldanha-tak,” het Helfrich gesê.



