Die Saldanha-rugbyklub het goeie nuus vir rugbyliefhebbers danksy die aanpassing aan die Covid-19-inperkingsmaatreëls verlede Dinsdag (22 Maart).
Die derde Transnet-Saldanha se Super8-toernooi vind van 14 tot 17 April by die Transnet-stadion plaas en Saldanha is die gasheer vir die besoekende spanne wat kom meeding. Vanjaar se deelnemers sluit Darling, Roses United, Crusaders (George), Kuilsrivier, Progress (Uitenhage), Robertson asook Caledon in.
Die toernooi-organiseerders het vroeg reeds aangekondig dat Covid-reëls sal geld. Aanvanklik sou slegs 2 000 toeskouers by die stadion toegelaat word, maar danksy die verslapping van die inperkingsmaatreëls sal 4 000 mense nou by die hekke ingelaat kan word, het die organiseerders laat weet.
“Dit is ook verblydend dat die rampreëls toelaat dat mense wat nie ingeënt is nie, ook nou die wedstryde kan bywoon mits hulle kan toon dat hulle in die voorafgaande 72 uur negatief vir Covid-19 getoets is. Sulke antigeen-toetse, of die ‘rapid test’, is algemeen by klinieke beskikbaar en as u toets negatief is, hoef u net die bewys saam met u ID te bring en u sal wel tot die stadion toegelaat word,” het die organiseerders laat weet.
Aanhangers wat nie hul span persoonlik kan kom ondersteun nie, sal al die wedstryde op SuperSport kan kyk.


