Die finale visserslyste van kleinskaalse vissers is verlede week deur die departement van bosbou, visserye en omgewing uitgereik.
Die amptelike verklaring van dié lyste sloer al jare lank nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof beslis het die departement moes die verklaring van kleinskaalse vissers ter syde stel weens ’n gebrekkige proses wat in 2016 plaasgevind het.
Kleinskaalse vissers van die Weskus vorm nou 29,84% van die aantal suksesvolle vissers in die provinsie. Die res van die regte is toegeken in die Kaapse metro (34,26%), die Overberg (32,97%) en die Tuinroete (2,93%).
Die minister Barbara Creecy het die hof aanvanklik genader om die toekenningsproses ná vele klagtes uit die sektor, te hersien.
Volgens die departement is die lyste na afloop van ’n gedetailleerde en verfynde proses wat gevolg is, uitgereik.
Insae van gemeenskapsorganisasies en gemeenskapsmobilisering is volgens die departement by die hersiende proses gevoeg om te verseker ’n meer akkurate toekenningsproses word gevolg. Vissers het ook twee maande kans gehad om hul vorms te voltooi met hulp van die departement sowel as plaaslikes om te verseker die nodige vorm is korrek voltooi.
Van die 4 000 vorms wat die departement ontvang het, was 3 414 suksesvol. “Dit is ’n aansienlike verbetering van die vorige proses waar slegs 31% suksesvol was en lisensies vir kleinskaalse vissers uitgereik is. Meer as 30% van suksesvolle en verklaarde kleinskaalse vissers is vroue, terwyl 68% van die vissers bruin is, 25% is swart vissers en 3% is wit,” het die departement in die verklaring gesê.
Volgens die departement is die nuwe verklaring van vissersregte deur ’n onafhanklike waarnemer gesteun vir regverdigheid en deursigtigheid van die proses.
Onsuksesvolle vissers wat se aansoeke afgekeur is, het ’n geleentheid om te appelleer. Die departement het verduidelik briewe word nou aan onsuksesvolle vissers uitgereik om te verduidelik hoekom die regte afgekeur is. Hiermee saam sal die nodige vorms vir appèl uitgereik word.
Die departement is ook tans besig om kleinskaalse vissers in amptelike kleinskaalse vissersgemeenskappe te help om as koöperasies te registreer. Hierdie koöperasies kom in aanmerking vir visvangregte, wat vir 15 jaar sal geld. Die toekenning sal voor Oktober plaasvind.



