Kleinskaalse vissers is weer eens mismoedig gelaat nadat die seisoen se algehele toegelate vangs (TTV) aangekondig is.

Masifundise Development Trust en Coastal Links SA, twee burgerlike organisasies wat vir die belange van vissers veg, het in ’n gesamentlike persverklaring gesê die 16,43% besnoeiing van die TTV vir die 2023-’24 kreefseisoen laat vissers onder druk en benoud oor hul toekoms.

Die departement van bosbou, visserye en omgewing het Maandag 7 November die TTV asook die datums vir die seisoen aangekondig.

Volgens kleinskaalse vissers is die 78,54 ton (kuslangs) en 57,79 ton wat aan vissers in die Wes-Kaap en Noord-Kaap toegeken is, nie genoeg vir die vissers om ’n lewensvatbare bestaan te maak nie. “Die kleinskaalse vissersektor in die Wes- en Noord-Kaap maak staat op kreef as ’n hoëwaardespesie, wat ’n beduidende deel van hul jaarlikse inkomste is. Hierdie besnoeiing van die TTV beteken ’n direkte afname in hul inkomste, wat dit moeiliker maak vir vissers om in hul basiese behoeftes te voorsien,” het die organisasies gesê.

Op hul beurt het die departement verduidelik die afname in TTV is noodsaaklik vir die voortbestaan van die kreefbron. Die algehele toegelate vangste vir die 2023-’24 seisoen is:. Kommersiële visserye: 231,09 ton;. Kommersiële visserye (kus): 78,54 ton;. Ontspanningsvisvang: 14,4 ton;. Vissers met tussentydse verligting en kleinskaalse vissers (kus): 78,54 ton; en . Kleinskaalse vissers 57,79 ton.

Die vissersorganisasies meen die departement se stelsel om die kreef te bestuur, laat veel te wense.

Hulle meen die departement se bepaling van vangste is nie doeltreffend nie en kom ten koste van vissers se inkomste.

“[Die] wetenskaplike aanslag wat gebruik word om die beskikbare bron te bepaal, neem nie inheemse kennis van kleinskaalse vissers in ag nie en die algemene bestuur hinder die maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling en prioritiseer slegs tegniese, Westerse begrip van visserye,” meen die vissers.

Hulle voel die departement neem nie die historiese en kulturele aspekte van die plaaslike kleinskaalse vissers in ag nie.

Die seisoen het egter reeds begin met die eerste vangste van kreef wat op 15 Oktober geopen het.

Spesifieke datums is vir sekere sones goedgekeur, met die laaste vangste van die seisoen wat tot 30 Junie 2024 duur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article