Die Klassieke Koelkamers-fees is terug en vind van Donderdag 15 tot Sondag 18 Junie plaas.
Hierdie fees is die idee van die musiekimpresario Niël Rademan en die eienaars van Die Koelkamers, Greg Meyer en Jan Malan.
“Ons is nou in ons derde jaar en ek is seker dat hierdie toeganklike klassiekemusiek-inisiatief binnekort ’n gesogte geleentheid op die feeskalender sal word,” sê Rademan.
Klassieke Koelkamers sal bestaan uit ses vertonings met die talente van klassieke en crossover-musikante, Lynelle Kenned, Niël Rademan, Veronica Bell, Elna van der Merwe, West Coast Youth Orchestra onder leiding van Carina Brown, asook Die Koelkamers-koor.
Dié kleinskaalse fees begin Donderdag 15 Junie om 18:00 met Die Koelkamers-koor wat uit lede van die plaaslike gemeenskap in Paternoster bestaan.
Die koor is hard besig om ’n repertoire van gewilde liedjies uit die bekende musiekblyspele voor te berei met liedjies van Paint your Wagon, Evita, Carousel en Les Misérables.
Best of West Coast Youth Orchestra is ’n middagkonsert en vind Vrydag 16 Junie plaas. Die dirigent, Carina Brown, sê die Weskus Jeugorkes is ’n kultureel diverse organisasie sonder winsbejag wat ’n geleentheid bied aan alle jong musikante van die Weskus om musiek uit te voer.
“Hulle word nie net wonderlike musikante deur hierdie program nie, maar word ook waardevolle lede van die Weskus-gemeenskap.”
Dieselfde aand om 19:00 is dit Classix to Cabaret se beurt met die multi-talentvolle Niël Rademan. Hy neem ons op ’n herinneringsreis deur al die wonderlike liedjies van klassiek tot kontemporêre kabaret, gepaard met pragtige viool- en altviool-items wat deur Veronica Bell uitgevoer word.
Saterdag 17 Junie om 12:00 in Focus on The Fiddle val die fokus op die viool as koning van die strykers. Hierdie is ’n uitvoering deur die fabelagtige Veronica Bell, met die geliefde pianis Elna van der Merwe.
Gaste word om 17:00 getrakteer op die uitblink-talente van Lynelle Kenned (sopraan), Niël Rademan (bariton), Elna van der Merwe (klavier) en Veronica Bell (viool).
Night At The Opera and The Silver Screen bevat hoogtepunte uit die mooiste rolprente en operamusiek wat vir die silwerdoek gebruik word, soos The Godfather, The Student Prince, La Bohème, Faust van Gounod en ook My Fair Lady.
Sondagoggend 18 Junie om 12:00 sluit die fees af met Lynelle Kenned in konsert.
Kaartjies kan aanlyn by www.diekoelkamers.com gekoop word.





