Meer as ’n honderd inwoners van Yskor, Vredenburg, meen indien hul raadslid nie kan help om hul buurt te beveilig nie, moet hy waai.

Volgens William Morrison, ’n inwoner en ook die voorsitter van die plaaslike buurtwag, is veiligheid in die buurt ’n groot probleem.

Morrison sê talle strate in die buurt is reeds maande sonder straatligte en klagtes aan die plaaslike raadslid “val op dowe ore”.

“Hier is baie bejaardes in die buurt en hulle is van die kwesbaarste. Huisbrake, mense wat in erwe rondloop en diefstal uit motors is ’n groot probleem. Omdat kabels so gereeld gesteel en dit nie reggemaak word nie, beweeg die diewe in die donker rond,” kla Morrison.

Inwoners het onlangs ’n saamtrek gehou om hul ongelukkigheid oor misdaad in Yskor te bespreek.

Onder die klagtes was kinderveiligheid, rooftogte en wat hulle noem die gebrek aan samewerking van die Saldanhabaai-munisipaliteit.

Intussen het 150 inwoners hul handtekeninge by ’n petisie gevoeg waarin hulle vra dat die raadslid verwyder word.

Die gemeenskap meen benewens die feit dat hy hulle as raadslid faal, is sy portefeulje in die dorpsraad ook dié van korporatiewe dienste en openbare veiligheid, wat hulle nog meer ontstoke laat.

Morrison sê samewerking met die Vredenburg-polisie het tot uitgebreide misdaadbekamping en selfs ’n paar inhegtenisnemings gelei.

“Ons het ’n groot, aktiewe Whatsapp-groep waar inwoners ons van enige misdaad kan inlig. Net onlangs het ons twee mans betrap wat kabels wou steel. Die probleem bly egter die donker dele, wat nou al hotspots vir die skelms geword het.

“Baie inwoners het CCTV by hul huis, maar dit help nie juis nie, want die skelms weet dis te donker vir ons om hulle uit te ken. Jy kan die mense sien beweeg, maar met die straatligte wat nie werk nie, kan ons nie veel doen nie,” meen Morrison.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit het bevestig hy het die petisie van die gemeenskap ontvang.

“Die Saldanhabaai-munisipaliteit het die petisie ontvang en dit sal ingevolge die raad se petisiebeleid hanteer word,” het Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder, verduidelik.

Geen terugvoer is ontvang op die vraag oor hoekom die straatligte nie herstel kon word nie.

Intussen het ’n handjievol inwoners vandeesweek saam met Morrison, met die munisipaliteit vergader om hul klagtes te bespreek.

Ingevolge die petisiebeleid sal die munisipaliteit binne 14 dae ’n petisiepaneel stig om besluite oor die aangeleenthede te bespreek en terugvoer aan die gemeenskap gee.

“Ons sal maar wag en kyk wat die munisipaliteit sê,” sluit Morrison af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article