Die vyf lede van ’n Weskus-gesin wat saam met twee gesinsvriende vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is weens bedrog van R6 miljoen met grondtoelaes, het vir die eerste keer in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof in die Kaap verskyn.

Die Valke se ernstige korrupsie-ondersoekspan het Willem Klaase (67), sy vrou, Martha Klaase (71), hul dogter, Marga Klaase (43), en hul seuns, Wilbur Klaase (44) en Alberto Klaase (39), en vriende Brian Phillipus (43) en Elton Smith (42) op Dinsdag 11 Julie in Laaiplek, Vredenburg en Saldanha vasgetrek. Hulle het Maandag 24 Julie hul eerste verskyning in die Bellville-handelshof gemaak.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, was hulle almal trustees van die Welbeloon-plaastrust wat na bewering op ’n onregmatige wyse geld by die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming bekom het.

Die aanklagte van bedrog hou verband met ’n aansoek tot ’n grondherverdeling vir landbou-ontwikkelingstoelae (LRAD) gedurende 2007 tot 2008 wat hulle by die departement op Clanwilliam ingedien het. Hulle het aangedui dat hulle die De La Rey-plaas in die Aurora-omgewing teen R3 miljoen en al die roerende eiendom en vee ter waarde van R1,68 miljoen wou aankoop. Dié toelae is bedoel om voorheen-benadeelde swart Suid-Afrikaners te help om plase te bekom.

Die staat beweer dat daar verskeie wanvoorstellings op die aansoek was en dat hulle die toelae bekom het “uitsluitlik tot voordeel van Willem en sy gesin”. Hulle was ook nie werkloos, soos die kriteria bepaal nie.

Die verdagtes is steeds uit op borgtog van R3 000 elk en verskyn weer op Woensdag 6 September.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article