Klein Deon Carstens het die kollig verlede week by die Mnr. en Mej. Fynbos-kompetisie vir kinders 2-13 jaar behoorlik vol selfvertroue gesteel.
Dié kleinding, wat Donderdagaand (25 Augustus) by die Hopefield Fynbosskou in die ouderdomsgroep twee tot drie jaar deelgeneem het, het selfs vir die beoordelaars geknipoog, gewaai en ’n howzit-teken met sy duim en pinkie in die lug gemaak.
Hy het te verstane sy afdeling gewen, met Wynand Smit tweede en Dietwar Ackermann derde.
Dit is die eerste jaar dat seuns ook kon deelneem en die beoordelaars – die radiopersoonlikheid Cecily Immelman, die restauranteienaar JP Bezuidenhout en Laura Franzman Botha – moes behoorlik kopkrap.
Petra Mei was die seremoniemeester en het soos gewoonlik die gehoor op hul tone gehou – letterlik – in die geval van Immelman wat spontaan opgespring en op die “Sexy Hoender”-liedjie op die loopplank gedans het.
Die tema vir die uitrustings was seevaart en die deelnemers het gewoeker met van die tradisionele vlootkragies en -hoedjies tot byderwetse en hoogs kreatiewe uitrustings, wat elkeen ’n prys verdien het.
Mia Ackermann en Jordan Nel is as die bes geklede deelnemers aangewys.
Hoewel die meisies in die ouderdomsgroep twee tot drie jaar nie ewe veel moed vir die helder beligte loopplank en harde musiek gehad het nie, is Lee Loubscher se spontane persoonlikheid met ’n eerste plek beloon. Riah Els was tweede en Makhaira Maree derde.
Die vier- tot vyfjariges het effens meer waagmoed gewys met die gooi van soene en vinnige rondomtalies. Hier het Angie Jordaan gewen met McKenzie Kruger tweede en Miané Bester derde. Zian Rust het die seunsafdeling gewen, met Herman de Kock tweede en Sebastiaan Esterhuizen derde.
Met die intrapslag van die ses- tot sewejariges was dit duidelik dat speeltyd verby is. Van die deelnemers het ernstig model-passies gewys en seker gemaak om al die regte bewegings na die beoordelaars se kant toe te maak. Lua Smith het gewen met Anské Bester tweede en Moana Julies derde.
Mia Ackermann is in die ouderdomsgroep agt tot tien jaar as die wenner aangewys met Mart-Mari Esterhuizen tweede en Ariana Rust derde.
In die oudste ouderdomsgroep, 11-13 jaar, is Johanne Louw aangewys as Mej. Junior Teen Fynbos met Zhané van Wyk tweede en Ashley Burger derde.
Die seuns het in die ouderdomsgroep 8-13 jaar uitgehaal en gewys om te bepaal wie Mnr. Junior Teen Fynbos is. John Geldenhuys is was die wenner met die broers Jordan Nel en Jayden White onderskeidelik tweede en derde.
Die organiseerders, Denis Jordaan en Jessica Bosman, het toegesien dat die wenners en deelnemers hope geskenkpakke vol hoëgehalteprodukte wen.
In Weslander se Mnr. en Mej. Fotogenies was die wenners Deon Carstens (2-3), Angie Jordaan (4-5), Francois Louw (4-5), Lua Smith (6-7), Skylar Hope Julies (8-10), Jayden White (8-10), Jordan Michael Nel (11-13) en Ashley Burger (11-13).
Wenners is nie in elke ouderdomsgroep aangewys nie.




