’n Eerste – en ’n splinternuwe – ervaring vir die kinders en ouers van Louwville is in Desember aangebied – ’n opelug-Kersboom-konsert.
Elke jaar is daar ’n menigte kinders wat sonder ’n lekkergoedpakkie en ’n Kerspresentjie moet klaarkom.
Ons het die leemte raakgesien en ek en Helen Losper het koppe bymekaargesit en met ’n plan vorendag gekom om ’n heerlike Kersboom-partytjie te hou waarby plaaslike kinders sal baat vind, en ook waar die ouers hartlik aan die Kersfees-gesange kon saamsing.
Dit was ’n plesier om die breë glimlaggies op die kinders se gesigte te sien toe hulle hul lekkergoedpakkies en presente van Kersvader ontvang het.
Dit was ’n groot sukses en ons wil dit graag ’n jaarlikse instelling maak.
Die volgende mense en instansies word hartlik bedank vir hul ondersteuning en betrokkenheid: Die bestuurspan van Weskus Mall vir die Kersgeskenke; die bestuur van Pick n Pay in die Ipic-sentrum vir die lekkergoedpakkkies; die bestuurkomitee van Sea Harvest en me. Truter, sowel as die werkspan van die ouers, asook Piet Smith vir die skenk van die Kersboom, en ook vir almal wat ’n handjie kom bysit het, foto’s te neem en dit ’n onvergeetlike oomblik vir die kinders gemaak het.
’n Vreugdevolle en voorspoedige nuwe jaar vir almal.





