’n Polisiesersant en ’n pastoor in die Korrektiewe Dienste van Porterville is in hegtenis geneem nadat hulle hulself “aangestel” het om die reg in eie hande te neem en twee vermeende kerkdiewe vermoedelik ’n les wou leer.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê sers. Sharon Fredericks (48) en pastoor Raymond Fredericks (40) het Dinsdag (28 Januarie) in die Piketberg-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en aanranding in twee afsonderlike sake.

Volgens Helfrich is dit bloot toevallig dat die sersant en die pastoor dieselfde van het.

In die eerste geval het pastoor Fredericks na bewering ’n 44-jarige man die afgelope Donderdag 23 Januarie om 19:00 by sy vriende kom haal en gesê hy wil iets vir hom by die pastorie gaan wys. Sersant Fredericks was glo in die motor.

By die pastorie is die slagoffer aangesê om uit te klim, waarop die Frederickse na bewering die man aangerand en gewurg het. Hulle het glo ook gedreig om sy gesig in ’n swembad se water te druk en sy klere van sy lyf afgeskeur. Die man was genoop om kaal huis toe te hardloop.

Die beskuldigdes was oortuig daarvan dat dié man by die kerk ingebreek het.

Dieselfde aand, omstreeks 20:15, het die Frederickse na bewering ’n 34-jarige man in Eikestraat, Porterville, opgelaai. Hy is ook meegedeel hulle wil hom iets by die pastorie gaan wys. Hier is die man glo aangerand en gewurg.

Hy kon darem met klere en al vlug.

Die Frederickse is nie in aanhouding nie en is gewaarsku om op Donderdag 20 Februarie weer by die hof te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article