Die Congregational kerk in Diazville, Saldanha.Foto’s: Verskaf


Vandale wat gereeld ’n kerk in Diazville, Saldanha, vandaliseer, het nou oorgegaan tot intimidasie deur vyf skote in die lug te skiet op die kerk se stoep en die patroondoppies daar te los.

Pastoor Bennie du Plessis van die Congregational kerk is al moedeloos oor die teistering. In Maart vanjaar het die kerk ten duurste weer ’n keer die kragkabel wat gesteel is, vervang.

In Mei het die booswigte dit weer kom steel. Die nuwe kragdraad is met sement toegemaak om dit vir die vandale moeiliker te maak en hopelik af te skrik, maar nie eens ’n maand later nie is die sement oopgebreek en die kabel weer weggedra.

Op Saterdag 8 Junie is vyf 9 mm-koeëls se patroondoppies op die kerk se stoep gelos nadat die booswigte vermoedelik skote in die lug geskiet het.

Die gemeente is raadop oor die kragkabeldiefstal en kan nie verklaar waarom juis húl kerk keer op keer deur vermoedelik dieselfde diewe geteiken word nie. Die diefstalle gebeur gewoonlik gedurende die vroeë oggendure.

Daarbenewens kos dit die gemeente elke keer ’n klomp geld om die kabel te vervang. “Het die booswigte dan nie respek vir die huis van die Here nie? Die kerk doen hulle mos niks nie.”

Die kerk het al die polisie gebel ná ’n diefstal, maar omdat hulle nie uitgekom het nie, is nog geen klagtes by die polisie aangemeld nie, maar Du Plessis meen dat hulle weldra tog maar die aangeleentheid onder die owerhede se aandag gaan bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article