Inwoners van Huis Wittekruin op Vredenburg sien só uit na die jaarlikse snoekbraai deur gemeentelede van die NG kerk Saldanha, dat sommige van hulle selfs hul kuiers by familie uitgestel het om dit te kon meemaak.
’n Groep geesdriftige snoekbraaiers het Saterdag 22 Julie weer die son en braaivleisvure kom aandurf om vir inwoners heerlike snoek op die kole te kom braai.
Karin Hubbard, bestuurder van Huis Wittekruin, het vertel hoedat van die inwoners vir hul mense laat weet het dat hulle eerder wil bly sodat hulle aan dié Weskus-lekkerny kon smul.
Die NG kerk Saldanha kom braai jaarliks snoek vir die inwoners van dié ouetehuis, ’n hoogtepunt op hul kalender.
Meer as 25 kg snoek is vanjaar gebraai. Dit is voorgesit saam met patatsnye, ertjies en varsgebakte brood. Die inwoners het ook melktertjies as nagereg gekry.
Dié inisiatief het, volgens die vriendelike kerkkantoorpersoneel wat in die notules gaan soek het, al in 2005 begin. Dit was dus nou die sestiende keer dat gemeentelede dié liefdestakie verrig het. Hulle kon dit net in 2020 en 2021 nie doen nie.
Hubbard het haar dank teenoor die kerk uitgespreek.





