Vernique van RooyenFoto: Annastashia Boois


In ’n emosionele sosialemedia-inskrywing beskryf ’n vriendin van nog ’n slagoffer van vrouemoord haar verlies as “ ’n moeras van emosies, ’n tsunami van trane”.

Só voel die vriende, vriendinne en familie van gemiddeld sowat nege vroue wat elke dag in Suid-Afrika deur hul intieme lewensmaats vermoor word. Volgens AfricaCheck tel dié land onder die vyf lande met die hoogste vrouemoordsyfers saam met lande soos Venezuela, Honduras en El Salvador.

Vernique van Rooyen (24) se lyk is op Sondagmiddag (27 Augustus) omstreeks 17:00 in ’n huis in Doringbaai, tussen Dwarskersbos en Lambertsbaai, gekry, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.

Haar gesig was bedek met ’n swart kappiebaadjie en sy het verskeie meswonde aan haar lyf gehad.

Van Rooyen en haar kêrel, Gino Williams, wat homself op sosiale media “Trigga” Williams noem, het blykbaar vroeër die dag stry gekry waarop hulle mekaar met messe bygedam het.

Die bebloede 28-jarige Williams het glo doodluiters aan mediese personeel wat sy meswonde verbind het, verduidelik dat hy in ’n onderonsie met sy meisie haar doodgesteek het, het Helfrich gesê.

Hy was glo onvas op sy voete toe hy Sondagmiddag om 17:55 in die straat opgemerk is. Die polisie het hom op ’n klagte van dronk op straat aangekeer.

Williams het glo erken dat hy Van Rooyen met ’n mes in die arm en rug gesteek het, wat haar dood veroorsaak het.

Sy ma het blykbaar kort tevore by die polisie gaan aanmeld dat Van Rooyen leweloos op die bed lê.

Een van Van Rooyen se beste vriende, Annastashia Boois, het op Facebook geskryf: “Vanaand is daar ’n gat in my hart. Ek wens ek kon jou ’n horlosie gee, sodat die tyd van ons vriendskap nooit sou uitloop nie; ’n veldblommetjie sodat jy kon sien dat daar wel mooi dinge in die lewe is; ’n spieël sodat jy kan onthou hoe kosbaar jy vir my was; ’n skoenlapper sodat jy hoog en vry saam met God kan vlieg.”

Teen druktyd was daar nog nie vaste begrafnisreëlings nie.

Williams het Dinsdag 29 Augustus in die Lutzville-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Hy is in 2021 skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Dit spruit uit ’n voorval op 2 April 2021 waarin hy ’n polisiebeampte met ’n mes in die regtervoorarm gesteek het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article