Etienne Swanepoel met ’n Kaapse kobra.Foto:


Die somer is hier en daarmee saam het die slangseisoen ook aangebreek.

Weskussers sou oor die afgelope maand al meer slange – talle ongelukkig dikwels doodgery – langs die Weskus-paaie aanskou het weens die streek se ryke fynbos en ongerepte natuurvelde.

Tog het baie nie die kennis wanneer dit by slange kom en hoe om die situasie te hanteer nie. Weslander het die ervare Weskus-slangvanger Etienne Swanepoel genader om sy kennis en wenke met lesers te deel.

Dooie slange op Weskuspaaie:

Swanepoel meen die terugvoer wat hy van die publiek ontvang het hierdie slangseisoen is nogal skokkend. “Ontsettend baie slange word doodgery. Die meeste van hierdie slange is oor die algemeen molslange, juis omdat hulle pad toe kom om warm te kry. Mense besef nie hulle ry eintlik redelik onskadelike slange met opset dood nie, net omdat hulle daai geloof het dat al wat ’n slang is, doodgemaak moet word.” Swanepoel sê slange is nodig omdat hulle help met pesbeheer, en dis veral hierdie nie-giftige spesie wat ons moet beskerm.

Slangseisoen en waar slange DIE meeste gewaar word:

Interessant deel Swanepoel dat die slangseisoen vanjaar later begin het omdat die winter langer geduur het. Sy seisoen het egter in Oktober vanjaar begin. Swanepoel skat dat hy in Velddrif, Dwarskersbos en omliggende gebied omtrent 50 slange tot dusver gevang het. Die meeste slange wat hy gewaar en vang, is molslange, Kaapse kobras en pofadders.

Wat kan mense doen wanneer hulle ’n slang in hul huis of tuin gewaar?

Swanepoel sê die belangrikste is om jouself, geliefdes en troeteldiere veilig weg te kry van ’n slang af, maar ook nie sig te verloor van die slang nie. “Bel dadelik ’n slanghanteerder en hou die slang dop totdat die slanghanteerder daar kom. Ons kan nie net ’n slang opspoor as ons nie weet waar hy is nie.”

Wat om te doen wanneer ’n slang jou pik

Wanneer dit by ’n slangbyt kom, is Swanepoel se raad dat die slagoffer kalm bly en dadelik op sy sy gedraai word en nie op sy of haar rug nie. “Baie slanggif veroorsaak naarheid, en indien so iemand op sy rug lê, kan hy verstik – op die sy is beter. Haal dadelik enigiets af wat swelling kan veroorsaak, sodat dit nie in die vleis in sny nie. Moet geensins enige selfmedikasie gebruik nie. Daar is geen ander medikasie wat help nie, behalwe teengif.” Wanneer dit kom by vervoer vir mediese sorg, lê klem daarop dat dit in verband is met ’n slangbyt. So kan hulle voorberei vir die pasiënt wat inkom.” Swanepoel lê ook klem daarop dat die slagoffer na ’n hospitaal of ’n mediese eenheid wat trauma hanteer, vervoer moet word, en nie die roete van ’n algemene praktisyn moet volg nie.

Wat lok slange?

“Daar is nie ’n afweermiddel wat slange kan weghou nie. Slange is soos mense – hulle het skuiling, water en kos nodig. Mense moet hul tuine skoonhou, wat skuiling kan verhoed vir slange. Maak krane wat in die erf is en water lek, reg – dit lok weer prooi vir slange.”

Daar is tans ’n tekort aan teengif landwyd, meld Swanepoel, en daarom raai hy inwoners en besoekers aan om nie self slange te probeer aankeer sonder die nodige opleiding of ervaring nie.

“Ek maan die publiek om nie kanse te waag nie en dit eerder aan professionele mense wat slange kan hanteer, oor te laat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article