Dalene du Plessis, ’n sielkundige berader


“In ons land het kinders so jonk soos sewe jaar al hul eie lewe geneem.”

Só sê Dalene du Plessis, ’n plaaslike sielkundige berader, wat in Vredenburg en in die Bergrivier-munisipale gebied praktiseer.

In Suid-Afrika is 9% van alle sterftes onder tieners weens selfmoord, en dit neem toe, waarsku die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-groep.

Volgens die nuutste navorsing het selfmoordpogings onder Amerikaanse kinders tussen die ouderdomme van 10 tot 12 jaar van 2000-2020 meer as vervierdubbel.

Du Plessis sê dit is uiters belangrik dat ouers en onderwysers nie kinders se emosionele welstand ignoreer of afskeep nie, aangesien dit ernstige gevolge kan hê.

“Hou altyd die kommunikasiekanale tussen jou en jou kind oop. Jou kind moet altyd die vrymoedigheid hê om oor enigiets wat hulle pla, met jou te praat,” stel Du Plessis voor.

Sy sê as ’n goeie grondslag van kommunikasie met ’n kind gelê word terwyl hulle jonk is, sal hulle wanneer hulle ouer word, makliker oor ernstiger sake teenoor hul ouers oopmaak.

“Dis belangrik om te weet dat kinders soms uitlatings maak soos ‘ek haat my lewe’ of ‘ek wil nie meer lewe nie’, maar dit beteken nie noodwendig dat ’n kind sy of haar eie lewe wil neem nie,” verduidelik sy.

“Tog is dit ongelooflik belangrik om hierdie uitlatings nooit ligtelik op te neem nie. Tree eerder vroeër as later op. Dit kan nooit skade doen om jou kind na ’n sielkundige of berader te neem nie. Dit kan hom net goed doen.

Sy sê kinders kan weens verskeie redes depressief raak, maar as hy of sy in ’n liefdevolle en veilige huishouding grootword, kan dit moontlik boeliegedrag wees wat hom beïnvloed.

“’n Kind wat geboelie word se selfbeeld ly daaronder.”Depressie-gevaartekens:

– Wees oplettend vir ’n skielike verandering in gedrag,

– buierigheid en huilerigheid,

– skoolpunte wat agteruitgaan,

– slaan ag op ’n onderwyser se terugvoering,

– jou kind maak afbrekende uitlatings oor hom of haarself,

– sê sy word by die skool geboelie,

– haar eetgewoontes of gewig verander dramaties oor ’n kort tyd,

– jou kind wil nie meer deelneem aan aktiwiteite wat voorheen aan hom vreugde verskaf het nie.

– Jou kind ly reeds aan ander geestesgesondheidsuitdagings soos aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD) wat hom meer vatbaar vir depressie maak.

Du Plessis se raad:

– Kommunikeer met jou kind,

– bou ’n goeie kommunikasie-grondslag met jou kind terwyl hy of sy nog klein is,

– hou dop vir bogenoemde simptome,

– luister en hoor jou kind,

– gee erkenning aan sy of haar emosies

– neem jou kind eerder vroeër as later na ’n berader.

Skakel Du Plessis by 082 672 9008.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article