Sing en rymklets met ’n borrelende persoonlikheid? Kaytlin Filander het gewis die potensiaal om bekendheid in die musiekbedryf te verwerf.
Dié 16-jarige sanger en rymkletser van Vredenburg het haarself in die “hot seat” op een van CarBars se episodes bevind en het omtrent ’n groot indruk op mense gemaak.
CarBars bestaan uit die duo Cel en Ponga, wat ’n bekende naam in die musiekbedryf is. Die twee is altyd op soek na die beste van die beste rymkletsers om as gaste op hul platform te verskyn en meer uit te vind oor hul talent voordat die gaste met kykers deel watter talent hulle het. Die episodes verskyn op sosialemediaplatforms soos Facebook en Youtube.
CarBars het Kaytlin by die skool in haar skoolklere en al gaan oplaai om in die episode te verskyn. Kaytlin, wat aan die Hoërskool Vredenburg skoolgaan, vertel sy het glad nie verwag dat haar dag só sou eindig nie. “Toe ek kantoor toe geroep is, het ek eers gewonder wat gaan aan en of ek dalk in die moeilikheid is of iets, min te wete CarBars en die rymkletser Matthew Joyner sit en wag vir my. Ek het letterlik gebewe en kon dit nie glo nie. Die ervaring was een vir die boeke; ek het geen woorde om dit te beskryf nie,” vertel sy.
Kaytlin het ’n liedjie uitgevoer wat sy self geskryf het en het kykers se aandag getrek met haar diep, vloeiende lirieke wat ’n mens se siel raak en oor die lewe laat dink. Sosiale media was behoorlik – en is steeds – aan die gons nadat sy haar verskyning gemaak het en deel net positiewe terugvoer.
Kaytlin sê sy het haar liefde vir musiek ontdek toe sy nog klein was en het graag na reggae geluister en haar eie liedjies in gr. 8 begin skryf. Dit is waar sy haarself in die toekoms sien.
Om terug te gaan na haar diep lirieke sê Kaytlin haar lirieke is op feite gefokus en sy wil hê mense moet dol wees op die woorde. “Musiek het my al deur baie gehelp. Dit speel ’n groot rol in my lewe en ook dié van ander. Dit is altyd daar.”
Sy glo ook die Weskus het baie rou talent wat nog ontdek moet word.
Kaytlin het Joyner vir sy ondersteuning en aanmoediging bedank.
Die Weskus moet oppas, want dié tiener van Vredenburg het groot planne vir haar toekoms en gaan nog groot opgang in die musiekbedryf maak.





