’n Kassiere wat al langer as ’n jaar by ’n bekende kettingwinkel in die Laguna Mall in Langebaan werk, is die naweek saam met twee ander verdagtes – ’n man en ’n vrou – in hegtenis geneem nadat hulle na bewering probeer het om goedere van meer as R3 500 te steel.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, het die trio Saterdag (24 Junie) probeer om onder meer ’n mikrogolfoond te steel. Die kassiere het net die bedrag van R162,45 opgelui, terwyl die gesamentlike waarde vir al die goedere wat verbygeskuif is, altesaam R3 944,13 beloop het.
Die winkel se interne stelsels het onmiddellik die onderduimse daad bespeur en die personeel het ingegryp om die diewe vas te trek. Die polisie is verwittig en het al drie verdagtes in hegtenis geneem.
Helfrich het gesê al die goedere is teruggekry en die trio het Maandag (26 Junie) in die Hopefield-landdroshof op aanklag van winkeldiefstal verskyn.
Die kassiere staar ook ’n interne ondersoek by haar werk in die gesig, wat ná afloop van die hofsaak gedoen sal word.



