’n Bejaarde man wat sy motor vroegoggend na ’n vroulike motorskoonmaker in Louwville, Vredenburg, geneem het, het ’n baie wilder ervaring gekry as waarop hy moontlik gehoop het.
Twee gewapende rowers het die 63-jarige man vroeg Saterdagoggend (1 Julie) in Kooitjieskloofstraat by sy Opel Astra ingewag nadat hy die vroulike karwasser gaan soek, maar glo nie gekry het nie.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, ondersoek die Vredenburg-polisie ’n klag van motorkaping.
Die slagoffer beweer hy het eers net een man by sy motor sien staan. Die man het vir ’n saamrygeleentheid gevra, waarop die slagoffer en die man in die motor geklim het. ’n Derde man, wat intussen sonder die slagoffer se medewete in die motor geklim het, het ’n mes teen sy keel gedruk.
Volgens Helfrich het die kapers die slagoffer beveel om agter te gaan sit nadat hulle sy selfoon en beursie afgevat en aangedring het op die nodige PIN-nommers. Hulle het met hom begin rondry en later by die bank probeer geld trek, maar daar was nie genoeg geld in die rekening nie. Hierna het hulle met die slagoffer na Gushindada in George Kerridge gery, waar die slagoffer daarin geslaag het om uit die motor te spring en te vlug.
Die polisie is ontbied en die slagoffer se motor is gekry op die plek waar hy uitgespring het.
Die verdagtes, wat steeds nie aangekeer is nie, het te voet met die slagoffer se selfoon en beursie gevlug.
Die Vredenburg-polisie ondersoek die saak.



