Hoewel Karpowership SA se aansoek om verlening van sy omgewingsgoedkeuring van die hand gewys is, het dié maatskappy nie gaan lê nie.

Karpowership SA het onlangs goedkeuring van die departement van vervoer ontvang om sy krag-opwekkingskepe in Coega, Durban en Saldanha vas te meer. Die plaaslike projek sal volgens die Turkse maatskappy 320 MW vervaardig. Met die voortslepende beurtkrag meen die Suid-Afrikaanse regering die drie skepe sal help om verligting vir die kragkrisis te bring.

Talle vrae hang egter oor die beplande projek aangesien die maatskappy aandring op ’n 20 jaar lange kontrak, terwyl Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit, meen die kontrak moet tot vyf jaar beperk word.

Ten spyte van die departement van vervoer, wat goedkeuring gegee het vir die skepe om in Saldanha se baai vas te meer, is Karpowership SA se omgewingsgoedkeuring nog uitstaande.

Karpowership SA het op 26 Mei hul finale omgewingsimpakstudie vir Saldanha teruggetrek en vir ’n verlenging gevra om sy aansoek om omgewingsmagtiging van die departement weer in te dien met bykomende inligting.

Die inligting het te doen met die oprig van kragdrade en substasies en nie kragskepe self nie, het die maatskappy aan Weslander verduidelik.

Barbara Creecy se departement het egter ’n verdere verlenging afgekeur.

Vrydag (2 Junie) het die omgewingsorganisasie Green Connection gesê hy is verheug oor Creecy se besluit.

Karpowership SA het op sy beurt teen die minister se besluit, om nie nog kans te gee vir die indiening van die omgewingsimpakstudie met bykomende inligting, geappelleer.

Karpowership SA meen dié proses moet nou sy gang gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article