Die span agter Karpowership is ten spyte van teenkanting besig met sy planne om die projek amptelik van stapel te stuur.
Karpowership SA was die suksesvolle bieërs vir die Risk Mitigation Independent Power Producer Procurement Programme (RMIPPPP) van die nasionale regering. Die doel van die RMIPPPP is om die huidige korttermyn-gaping van elektrisiteitverskaffing te vul, om die huidige druk op elektrisiteitsvoorsienings te verlig en die uitgebreide benutting van diesel-gebaseerde kragopwekkers te verminder.
Die maatskappy het drie liggings vir die 2 000 MW-opwekkingsprojek identifiseer, waaronder die Saldanha-hawe. Die ander liggings is in Coega en Richardsbaai se hawens.
Plaaslik is die idee om 320 MW op te wek. Gqeberha en Richardsbaai sal na verwagting 450 MW elk opwek.
Die projek is egter nie sonder teenkanting nie.
Benewens die teenkanting van Green Connection, ’n omgewingsorganisasie, en die burgerlike groep OUTA (die Organisasie teen belastingmisbruik) is ’n hofaksie van DNG Energy Holdings aan die gang.
DNG Energy Holdings was ook ’n bieër vir die projek. Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het in Januarie bevind DNG Energy het geen meriete vir dié maatskappy se aantygings gehad nie – dat Karpowership die tender weens korrupsie waarby staatsamptenare glo betrokke was ontvang het. Intussen bevraagteken OUTA en Green Connection die projek se opwekkingslisensie, wat deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in September 2021 goedgekeur is.
Karpowership se plaaslike projek is slegs deel van die groter maatskappy se talle opwekkingsprojekte. Hul ander projekte is onder meer in Mosambiek, Indonesië en Kuba.





