Medelye het van oral in die Weskus ingestroom ná die dood van Noel “Koos” Minnaar (66).
Minnaar was welbekend aan die Weskus en het sy loopbaan in die polisie in Namibië begin, waarna hy in 1991 na Saldanha verhuis het en weer by die polisie aange-
sluit het. Hy is in 1999 as stasiebevelvoerder na Langebaan verplaas, waarna hy in dieselfde posisie in 2005 na Hopefield en in 2011 terug Langebaan toe verplaas is. Hy was tot 2016 bevelvoerder in Langebaan. Daarna het hy as veiligheidsbestuurder by Langebaan Country Estate begin werk en in 2024 afgetree.
Hartversaking is in 2019 by Minnaar gediagnoseer en hy is verlede Donderdag (4 September) ná ‘n lang stryd oorlede. Sy vrou, Christine, beskryf hom as iemand wat streng maar regverdig was. “Sy reg was reg en verkeerd was verkeerd, en sy liefde en omgee vir ander was ongelooflik. Hy het nie draaie geloop rondom situasies nie en dit daar en dan met wedersydse aanvaarding opgelos. Sy ondersteuning, leiding en onbaatsugtige liefde vir sy kollegas, familie en vriende was sy sterkpunt,” sê sy.
“Noel het altyd die regte antwoord vir enige vraag gehad. Hy was uiters intellegent en kon enige situasie hanteer. Hy was almal se raadgewer. Al het hy die polisie in 2016 verlaat, is hy steeds as ‘Kaptein Minnaar’ aangespreek.”
Sy vriend Leon Gouws sê dit was vir hulle ‘n groot hartseer om te verneem dat hul geliefde vriend, wat vir hulle as Koos bekend is, oorlede is.
“Gedurende die vyf jaar se goeie vriendskap wat ons op gebou het, het ek en my vrou, Marisha, ‘n woonstel by Koos op hul perseel gehuur. Ons het Koos leer ken as ‘n ware vriend wat uit sy pad sal gaan om enigiemand by te staan. Koos het altyd ‘n positiewe bydrae met sy sterk persoonlikheid en wysheid tot probleemoplossings gele- wer en met sy klein hart het hy altyd sy gesin en kleinkinders op sy hande gedra.”
Gouws sê Minnaar het groot belangstelling gehad in sport op Saterdae op televisie en het gereeld sy heerlike skaapskenkelpot laat prut terwyl die sport aan die gang was.
“Ons gaan veral Koos se sangaande mis waar hy met sy diep basstem die mooiste liedere kon sing. Baie dankie
vir jou wonderlike vriendskap en liefde wat jy aan ons verleen het terwyl ons jou lewe vir vyf jaar soos familie kon deel. Ons gaan jou gewis mis, Koos, maar sal jou nooit vergeet nie.”
Minnaar laat sy vrou, Christine, hul kinders Roy Minnaar, Charlene Pretorius en Nadia Minnaar en vier kleinkinders agter.
Christine bedank almal vir die boodskappe en oproepe. “Noel was baie geliefd,” sê sy.





