Hoewel botterskorsie koolhidrate bevat, is dit ’n beter keuse as aartappels.
Bestanddele
200 g blomkool, in boompies gesny
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
½ teelepel (2,5 ml) sout
1 t (5 ml) gedroogde tiemie of 1 e (15 ml) vars tiemie
’n Knippie gemaalde neutmuskaat of gemengde speserye
2 t (10 ml) olyfolie of kanola-olie
Suurlemoensap na smaak
Swartpeper na smaak
2 eetlepels (30 ml) gekapte vars pietersielie of tiemie
Metode
Plaas botterskorsie, blomkool, sout en tiemie in ’n pot met 300 ml water. Bring tot kookpunt, verminder die hitte en laat prut met ’n deksel op vir 20 minute of totdat die botterskorsie en blomkool net sag genoeg is om fyn te maak.
Dreineer, maar hou van die vloeistof. Plaas terug op die stoof en prut vir ’n paar minute om enige oortollige water af te kook.
Druk met ’n aartappeldrukker tot glad en roer neutmuskaat of gemengde speserye, olie, suurlemoensap en peper by.
Voeg van die behoue ??vloeistof by, indien nodig. Roer vars kruie by en sit dadelik voor.
Sit voor as ’n gesonde plaasvervanger vir kapokaartappels saam met ’n maaltyd van jou keuse. Vul jou bord met enige groen groente en dalk nog ’n klein porsie stysel, indien verkies. ’n Slaai of vrugte is nog ’n heerlike manier om jou bord vol te maak.
Wenke: Vervang botterskorsie met meer blomkool en volg die resep soos hierbo vir ’n blomkool-mash.
Alternatiewelik, vervang die botterskorsie met 2 blikkies botterbone, gedreineer, en laat prut met die blomkool.. Bron: Hart-en-beroertestigting Suid-Afrika





