Die Saldanha-polisie ondersoek ’n kaping en verkragting nadat ’n vrou en ’n man van dié dorp glo deur boosdoeners oorval is.

Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanha-polisie, het die twee slagoffers in hul amptelike verklaring vertel hulle en nóg twee vriende het Woensdagaand 16 Maart omstreeks 18:00 in die see by die Saldanha-vakansieoord in Kusweg gaan swem.

Die sleutel van die Polo Vivo waarmee die vier vriende strand toe gekom het, was glo in die eienaar van die voertuig se broeksak wat op die strand gelê het terwyl hulle in die water was.

Die vriende het glo twee ander mans op die strand gesien, waarna die motoreienaar glo ontdek het sy klere is nie meer op die strand nie. Hy vertel dat hy daarna dadelik uit die water gekom het. Hy het glo vermoed die mans wat op die strand gestap het, het sy klere met die motorsleutel en al gesteel.

Volgens Kotze het twee van die vriende die geselskap daarna verlaat en glo huis toe gestap. Dit is tans nie duidelik of hulle moontlik ook gaan hulp soek het nie. Die motoreienaar en die vrou het egter na bewering agtergebly omdat hulle bang was dat die diewe sou terugkeer om die voertuig te steel.

Die motoreienaar en die vrou het glo in die motor, wat nie gesluit was nie, gewag en later aan die slaap geraak. Die motoreienaar het vertel dat hulle Donderdagoggend omstreeks 04:00 wakker geskrik het toe iemand aan die ruit klop. Hulle het aanvanklik gedink dis moontlik hulp wat gearriveer het of sekuriteitsbeamptes wat wil hoor waarom hulle in die motor slaap. Maar die mans wat aan die ruit geklop het, het na bewering ’n mes uitgeruk, die twee slagoffers gedreig en hulle agter in die motor gebondel. Die twee kapers het daarna voor ingeklim en die motor met die gesteelde sleutel aangeskakel, wat die eienaar sterk laat vermoed het dat dit dieselfde twee mense is wat sy klere die vorige aand op die strand gesteel het.

Die slagoffers het aan die polisie vertel dat die twee kapers daarna met hulle in die rigting van Langebaan gery het. Naby die Sunrise Energy-gasaanleg het die man glo ’n kans gewaag en uit die motor gespring.

Volgens die vrou het een van die kapers agter by haar kom sit en haar onsedelik aangerand terwyl hulle gery het.

Die kapers het daarna glo na Saldanha teruggery en by Malgasstraat, Blouwaterbaai het die vrou daarin geslaag om uit die motor te kom en te vlug.

Die voorval is daarna by die Saldanha-polisiekantoor gerapporteer.

’n Saak van kaping en verkragting word deur die polisie ondersoek.

AO Kotze het verduidelik dat seksuele aanranding as verkragting tel wanneer enige vorm van penetrasie plaasgevind het. Kotze sê die polisie ondersoek tans die saak en is besig om verklarings in te win. Die ondersoekbeampte is sers. Siyabonga Barra.

Hy vra enigeen met inligting oor die voorval of die verdagtes om hom by 022 714 8300 te bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article