Maak die opinies van ander regtig saak? Ons weet min of meer wat die antwoord op die vraag is. Uit ervaring glo ons dat dit as ’n feit gestaaf kan word, maar ai, dis daai daaglikse leef en doen van hierdie waarheid waarby ons somtyds vashaak.
As ek hierdie vraag vir myself moet beantwoord, kan ek nie anders as om net so ’n bietjie te reflekteer op die tye toe die opinies van ander vir my regtig baie saak gemaak het nie. Dan wil ek eintlik lag daaroor, want dit was regtig vir my ’n belangrike saak dat ek wou weet wat ander van my dink – of dit wat ek sê of doen ander se goedkeuring wegdra; of ek goed genoeg in ’n vriendskapsirkel inpas en of ek in die oë van my vriende en kollegas gewild genoeg is.
Wat ’n klomp onnodige bagasie om mee rond te loop!
Dan wil ek amper outomaties dankie sê vir die voorreg om ouer en wyser te word. Wel, laasgenoemde sê ek met die veronderstelling dat ons wel toelaat dat situasies en omstandighede, hetsy positief of negatief, ons tot nuwe insig en wysheid sal bring.
Waar ek my tans bevind, is dit ’n bevryding om my nie te veel te steur aan wat ander van my dink of sê nie, want almal van ons het die reg op ’n eie mening. Wie egter daardie mening lug, is van kardinale belang.
Niemand van ons leef net vir hom of haarself nie. So, dit is soms nodig om van tyd tot tyd herinner te word of jy jou nog op koers bevind. Die teendeel daarvan kan rampspoedig wees vir die individu.
Die mense in my binnesirkel, wie se opinies vir my saakmaak, kan ek op my een hand tel – dis die mense met wie ek al ’n paar sakke sout gedeel het; die mense wat my ken vir wie ek is – die goeie en minder goeie kante van myself. Dis daai mense by wie ek net kan wees, deel en vir wie ek die grootste mate van liefde, respek en omgee het. Nie dat ek nie vir my medemens nie dieselfde mate van agting koester nie. Nee, ek glo jy volg wat ek hiermee bedoel. Daar is die kere dat ons in die vinnige spoed van ons daaglikse lewe nodig het om vir ’n wyle stil te word en ’n objektiewe perspektief of mening te kry – hetsy van die vertroueling in jou binnekring of die vreemdeling van iewers af.
Daardie oomblik het vir my weer so ’n paar dae gelede gebeur. My kop en gees het ’n bietjie afgestomp gevoel. My potlood het weer ’n skerpmaak nodig gehad. My tenkreserwes het op nul gestaan. My voete moes weer koers kry; inspirasie en opinie gaan soek. Dit het my onwillekeurig weer na my gunstelingplek geneem – die see. Tussen die stemme en voete van hordes mede-seebesoekers het ek Ezra ontmoet. Hy was besig om ’n video tussen al die hordes voete en stemme te skiet. Ek was gefassineer deur sy dapperheid – geen greintjie skaamte nie. Hy doen wat hy wil en moes doen.
Ek moes hom net vra hoe hy dit regkry. Nie dat ek skaam is om voor mense op te tree en te doen wat ek moet doen nie, maar op daardie spesifieke tydstip het ek nodig gehad om ’n ander stem as my eie te hoor en te ervaar. Sy antwoord was gevul met selfvertroue en jeugdige passie.
“My droom is om my eie musiekvideo te vervaardig. Ek begin nou al daaraan werk. Wat ander mense van my dink, maak nie vir my veel saak nie. Baie mense gee in elk geval min om wat jy sê of dink. So, ek kap net aan en doen my eie ding.”
Hierdie paar woorde van dié 22-jarige jongman was presies wat ek nodig gehad het om te hoor. Hy het my ook kortliks vertel hoe sy enkelma sy grootse bewonderaar is en sy oom Richard hom ook ondersteun om sy drome te help waar maak. Sy binnekring is reg en hy noem ook hoe hy voluit vertrou op die leiding en beskerming van sy Skepper.
Ek het nodig gehad om Ezra te ontmoet en kan nie wag om daardie eerste musiekvideo van hom te sien en daarna te luister nie. Die wyse woorde wat uit sy mond gekom het, het my weer nuwe moed gegee om my eie reis voort te sit. Toe my inspirasietenk op sy laagste was, het hy dit kom volmaak met sy jeugdige waagmoed en durf en het ek myself opnuut herinner hoe belangrik dit is om steeds te bly droom.
Of iemand anders in daardie droom van jou glo of nie – hou aan droom.
En of jy nou hordes negatiewe opinies van ander kry of nie – maak dit regtig saak? Wees jy net jy en “kap aan”. Ek sien ook uit om saam in jou vreugde te deel as jy die negatiewe opinie-draers verkeerd bewys.





