“Dit klink dalk na ’n cliché, maar ek het danksy my graad-twee-juffrou besluit om onderwys te studeer.”
Só vertel Lelani Volschenk, wat sedert 2019 ’n onderwyser by Jurie Hayes Primêr is.
Sy bied graad 2 Engels-huistaal, Afrikaans- addisionele taal, wiskunde en lewensvaardigheid aan.
Sy sê die liefde en omgee wat sy by haar gr.2-onderwyser ervaar het, het haar aangemoedig om eendag dieselfde vir ander kinders te doen.
“Dit was die oorspronklike rede vir my besluit toe leukemie aan die einde van my finale jaar as onderwysstudent by my gediagnoseer is. Nadat ek die kankerstryd oorwin het, het ek my uitkyk en doel vir my loopbaan effens verander,” vertel Volschenk.
Volschenk sê sy wil steeds die liefdevolle juffrou wees wat omgee, maar besef dat sy ’n tweede kans gekry het om soveel meer vir hierdie kinders te kan doen.
“Kanker het my geleer ek is tot soveel meer in staat as wat ek gedink het. Ek wil dit vir die kinders wat voor my sit, ook leer deur hulle te help groei en ontwikkel, geleenthede te bied en te wys dat die wêreld soveel groter is as wat hulle ken.”
Sy het onderwys in 2014 by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington begin studeer.
“Al wat ek van my eerste jaar kan onthou, is dat ons baie onderwyshulpmiddels, storieboeke en speletjies gemaak het. Verder was dit altyd vir my die lekkerste om te gaan proef.”
Aan die einde van haar vierde en finale jaar – twee weke voor die eindeksamen – is leukemie by haar gediagnoseer. “Dit het beteken dat ek natuurlik nie eksamen sou kon skryf nie. My dosente het vergader en besluit ek sal steeds my onderwysgraad ontvang. My punte was in daardie stadium genoeg dat ek kon slaag – prys die Here!”
Om haar posisie as onderwyser nou te kan vol staan, vertel Volschenk hoe sy dit geniet om saam met “haar” kinders te lag en te sien hoe hulle telkens ’n nuwe konsep onder die knie kry.
“Om ’n onderwyser te wees, is harde werk, en dit raak moeilik, maar die vreugde wat jy ervaar wanneer ’n leerder wat sukkel, vordering toon en die nodige mylpale haal, is ’n onbeskryflike gevoel – om te weet die werk wat jy insit, maak ’n verskil in daardie kind se lewe.”





