Die gemeenskap van Saldanha en die plaaslike en rugbygemeenskap rou oor die dood van Maurice Williams.

Williams is op 15 November 1980 gebore en op Dinsdag 5 Maart 2024 weens hartprobleme oorlede.

Hy is tussen 2017 en 2019 as derdespan-afrigter by die Saldanha-rugbyklub aangestel. Vanweë sy sukses en harde werk is hy in 2022 tot tweedespan-afrigter bevorder.

Yaseen van der Westhuizen, voorsitter van Saldanhabaai-rugbyklub, sê gedurende Williams se vier jaar van rugby, was sy span ook die Weskus-titelhouers, waarna hy as gevolg van sy siekte gedurende 2023 moes uittree. “Hy het weer vroeg in die jaar in ’n raadgewende hoedanigheid by die klub aangesluit tot sy skielike dood.

Williams se suster, Alrita Lesch, beskryf haar broer as iemand wat ’n mense-mens was. “Hy was ’n omgee-mens – veral vir kinders en mense wat dit nie breed gehad het nie. Maurice het ook altyd gehelp waar hy kan – veral by die St. Barths kerk.

“Ek het nooit besef watter groot impak Maurice op die gemeenskap gemaak het nie. Ek het dit wel besef deur die groot aantal mense wat die begrafnis bygewoon het en die Facebook-inskrywings,” vertel sy. As haar enigste broer sê Lesch sy gaan sy reguit karakter mis. “Maurice het nie doekies omgedraai as hy ontevrede was oor iets nie. Op ’n persoonlike vlak as suster gaan ek sy opbouende kritiek mis – en sy flou grappies en sêgoed. Soos alle broers en susters het ons maar ook iewers in die lewe gestry, maar ek weet hy was lief vir my en ja, ek was baie lief vir hom; ek gaan my klein broertjie baie mis.”

Sy deel ook graag dat hy ’n liefhebber van sagopoeding was en partymaal koekstruif (“trifle”).

Wat vir Lesch so spesiaal was, is dat sy en haar broer in die laaste paar maande van verlede jaar ’n mooi besonderse band gehad het.

“Ek gee die Here al die eer en lof. Een van die lewenslesse wat ek altyd sal onthou is dat al kom die storms van die lewe, dit sal nooit die bloedlyn van familie kan skei nie.”

Van der Westhuizen deel ook dat Williams passievol oor rugby was en stem saam dat hy ’n omgee-mens was. “ ’n Reguit mens wat nie geskroom het om sy standpunt te stel nie. Hy was absoluut ’n aanwins wat net sy beste gelewer het. Hy kon ook die beste uit elke speler kry, vandaar sy sukses as afrigter. Saldanha-rugbyklub en die hele rugbygemeenskap is ’n kampioen armer. Ons as die klub deel in die verlies en dink ook aan sy familie gedurende die tydperk van rou. Ons sal hom vir seker mis. We salute you, Maurice!”

Sy jare lange vriend Sebastian Julies het die volgende boodskap gedeel: “Your sudden departure has left a deep void in my heart. We shared so many secrets from school days to golden years, but the time together through all the years will take away these tears. Now what is left are the good memories of you. Thank you for being a part of my life. Your friendship was a blessing and I will really miss you.

Williams laat drie kinders agter.

Lesch bedank almal wat daar was vir hom in die laaste paar dae van sy lewe. “Ons as familie waardeer dit opreg.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article